Die DA se vrese vir nog 'n "Schweizer-Reneke-oomblik" wat tot 'n grootskaalse verlies van kiesers kan lei, het uiteindelik die party genoop om sy omstrede verkiesingsplakkate in Phoenix, Durban te verwyder.
Dean Macpherson, DA-LP en die party se voorsitter in KwaZulu-Natal (KZN), het verlede naweek sonder die goedkeuring en medewete van partystrukture plakkate in Phoenix laat oprig wat lui "Die ANC het julle rassiste genoem" en "Die DA noem julle helde".

Die plakkate - 'n verwysing na Indiër-inwoners wat self hul eiendom moes beskerm gedurende die onluste in Julie in KZN - was 'n set om Indiër-steun in Phoenix te wen.
Volgens die polisie is 36 mense in die onluste in Julie in Phoenix dood, waarvan 33 doodgeskiet is. Drie van hierdie slagoffers was Indiër-mans, terwyl die ander 33 oorledenes swart mense was.
Bheki Cele, minister van polisie, het in Julie die sterftes in Phoenix met "rasse-elemente" verbind, waarna die EFF in Augustus 'n optog in die voorstad teen "rassistiese en bloeddorstige Indiërs" gehou het.
Drie wyke in Phoenix, wyk 102 in Mount Edgecombe, wyk 110 in Glen Anil, en wyk 52 in Westham, is wyke wat die DA teiken om by die ANC af te vat in die verkiesings op 1 November.
In Mount Edgecombe het die ANC in 2016 die wyk met 46% van die stemme gewen, terwyl die DA 39% gekry het. In Westham het die ANC slegs 44% teenoor die DA se 42% gekry, terwyl die ANC slegs 42% teenoor die DA se 41% gekry het in Glen Anil.
"Dit is 'n feit dat die ANC enigiemand wat in enige gemeenskap oor die hele stad hul huise en gemeenskappe probeer beskerm het, 'n rassis genoem het," het Macpherson Dinsdagmiddag oor die plakkate aan EWN gesê.

Toe John Steenhuisen, DA-leier, Woensdagoggend deur joernaliste oor die plakkate gekonfronteer is, het hy dit ook aanvanklik verdedig.
Macpherson het verlede jaar Steenhuisen se veldtog bestuur om DA-leier te word. Die twee is goeie vriende.
Ná kritiek van buite en binne die DA het die party egter herbesin.
Volgens 'n DA-bron in Gauteng, wat na aan Steenhuisen is, was DA-leiers Donderdag op 'n vergadering van sy federale bestuur briesend omdat die plakkate afgewyk het van die DA se kernboodskap van dienslewering in aanloop tot die munisipale verkiesings op 1 November.
"Ons dissipline in hierdie verkiesing was só goed. Ons het nog heeltyd by ons boodskap oor dienslewering gebly, want ons weet die ANC kan nie daarmee kompeteer nie," het die LP gesê.
"In plaas daarvan dat ons munt slaan uit die omstrede sportterrein in Lesseyton (in die Oos-Kaap), of die feit dat beurtkrag weer ingestel is, word die openbare diskoers oorheers deur ons plakkate."
'n Ander LP uit KZN het gesê hoewel Steenhuisen aanvanklik vir Macpherson verdedig het, was daar teen Woensdagaand " 'n werklike vrees dat ons dalk nou ons Schweizer-Reneke-oomblik getref het".
Die verlies van wit Afrikaanse steun tydens 2019 se algemene verkiesing is in 'n verslag toegeskryf aan die DA se hantering van rassekwessies onder leiding van Mmusi Maimane, onder meer in Schweizer-Reneke in Noordwes, waar die DA sonder bewyse 'n jong, wit onderwyseres van rassisme beskuldig het.
Teen Donderdagmiddag het Macpherson in 'n verklaring verskoning gevra vir die "aanstoot" wat die plakkate kon gee. Dit sou verwyder word.
In plaas daarvan dat ons munt slaan uit die omstrede sportterrein in Lesseyton (in die Oos-Kaap), of die feit dat beurtkrag weer ingestel is, word die openbare diskoers oorheers deur ons plakkate.
Steenhuisen het op sy beurt aan City Press gesê hy gaan nie verskoning vra dat die DA gemeenskappe geprys het wat hulself beskerm het gedurende die onrus in Julie nie, maar het erken dat die "wanvertolking" van die plakkate se boodskap aanstoot kon gee.
Die politieke ontleder Gareth van Onselen, 'n voormalige DA-navorser, het die subteks van die plakkate as "eng rassenasionalisme" afgemaak en gesê dit is onverantwoordelik om sulke plakkate aan te bring teen die agtergrond van geweld in Phoenix.
Phumzile van Damme, die voormalige DA-LP wat in Mei op slegte terme uit die party bedank het, het die plakkate "walglik" genoem.
Die verkiesingsontleder Dawie Scholtz, wat voorheen by die DA werksaam was, het die plakkate as "afskuwelik" beskryf en getwiet dat "dit is hoe dit lyk wanneer jy die steun binne 'n eng minderheidskoalisie probeer maksimaliseer, sonder enige intensie om dit verder uit te brei".
Ryan Coetzee, 'n voormalige DA-strateeg wat verantwoordelik was vir die 2019-verslag ná die party se verlies van steun, het ook die plakkate gekritiseer.
"Dit is waar dat die ANC rassespanning stook en dit in Phoenix gedoen het. Dit is ook waar dat die DA nie dieselfde moet doen nie. Ten beste is daardie plakkate slegte oordeel. Geen punt om daarteen vas te skop nie. Haal dit af en kom terug by jou boodskap. Die DA kry dinge gedoen," het Coetzee getwiet.
In die 2019-verslag, wat Coetzee saam met die voormalige DA-leier Tony Leon en die Capitec-medestigter Michiel le Roux geskryf het, het hulle onder meer gewaarsku dat die DA nooit moet kant kies tussen rassegroepe nie.
Ons dissipline in hierdie verkiesing was só goed. Ons het nog heeltyd by ons boodskap oor dienslewering gebly, want ons weet die ANC kan nie daarmee kompeteer nie.
"Dit is 'n benadering waarin (die DA) bestem is om te misluk omdat hierdie 'n land is met ras- en etniese nasionalistiese partye wat baie beter met nasionalisme is as wat die DA ooit kan wees."
'n DA-bron uit die Wes-Kaap sê egter "die skietgoed wat hierdie plakkate vir die ANC in KZN gegee het, is wat die party die meeste grief".
Jessie Duarte, adjunk-sekretaris-generaal van die ANC, het Phoenix Donderdag besoek waar sy bekend gemaak het die ANC gaan klagtes teen die DA by die Menseregtekommissie aanhangig maak.
Pres. Cyril Ramaphosa het Vrydagmiddag in Tlokwe ook na die DA se "rassistiese taktiek" gekap.
"Hulle probeer die vlamme van rassisme stook deur vrees onder ons mense in te boesem," het Ramaphosa gesê.




















