In die afgelope 14 maande is 40 boukontrakteurs deur die Ontwikkelingsraad vir die Boubedryf (CIDB) op die swartlys geplaas.
Dean Macpherson, minister van openbare werke en infrastruktuur, beskou dit as ’n “drastiese ommekeer”, aangesien slegs een kontrakteur in die voorafgaande 23 jaar op die swartlys geplaas is.
Macpherson het vroeër onderneem om teen korrupsie en nie-presterende kontrakteurs op te tree en ’n duidelike boodskap oor te dra dat infrastruktuur van goeie gehalte verwag word wanneer openbare geld daaraan bestee word.
LEES OOK | ‘Swartlys’ kom vir kontrakteurs wat sloer en miljarde mors
Die departement van openbare werke en infrastruktuur is ook besig om sy prosesse te verfyn om kontrakteurs op die swartlys te plaas sodat daar vinniger opgetree en openbare geld verhaal kan word as deel van wyer hervormings in die departement.
Macpherson het Sondag in ’n verklaring gesê die swartlys sal ’n “duidelike boodskap” oordra dat die departement ernstig is oor nie-presterende kontrakteurs. Dié kontrakteurs word nou verbied om weer vir tenders te bie en mag nie werk by die departement kry nie.
Die departement wil verseker dat hy ’n professionele en hoogs funksionele eenheid is wat infrastruktuur van hoogstaande gehalte kan lewer wat die ekonomie sal laat groei en werk sal skep.
“Die skuif om die nie-presterende kontrakteurs op die swartlys te plaas, is presies wat ons aan Suid-Afrikaners belowe het toe ek in my amp begin het: dat diegene wat onderpresteer of by korrupsie betrokke is, aanspreeklik gehou en uit die stelsel verwyder sal word.”
Die stap deur die CIDB beteken dat die dae van straffeloosheid verby is, sê die minister.
‘Onaanvaarbaar’
Slegs een maatskappy is sedert 2002 op die swartlys geplaas. “Daardie situasie was heeltemal onaanvaarbaar in ’n omgewing waar bouprojekte oor die land heen onvoltooid gelaat of swak gedoen is. Dit ondermyn vertroue in die staat se vermoë om beslissend op te tee. Dit is waarom ons ’n nuwe blaadjie omslaan deur aanspreeklikheid te herstel, die bedryf skoon te maak en te verseker openbare geld lewer infrastruktuur van goeie gehalte waarop gemeenskappe kan staatmaak.”
Pogings is in die afgelope jaar aangewend om die werk van die departement te versterk deur belangrike poste te vul, nuwe meganismes vir aanspreeklikheid in te stel en die departement se aankope-prosesse te versterk, sê Macpherson.




















