Limpopo is die tuisprovinsie van pres. Cyril Ramaphosa sowel as Julius Malema, EFF-leier, maar ernstige watertekorte, rioolvuil wat die omgewing besoedel en paaie vol slaggate is van die voortslepende probleme waarmee inwoners te kampe het, berig Marietie Louw-Carstens.
Hoewel die ANC sedert 1994 in Limpopo koning kraai, daal hul steun sedertdien met bykans elke verkiesing. Tydens die eerste demokratiese verkiesing in 1994, toe Limpopo nog die Noordelike Provinsie geheet het, het 93% van die steun aan die ANC gegaan.
Die ANC het die plaaslike verkiesing van 2016 wel loshande gewen met 68,75% van die steun. Die aanloop tot dié verkiesing was vol drama toe inwoners van Vuwani, sowat 170 km noordoos van Polokwane, gewelddadige betogings gehou het weens die verskuiwing van die munisipale grense daar. Meer as 20 skole is afgebrand en inwoners het geweier om hul kruisies te gaan trek.

Nadat die gemoedere gekalmeer het, is Vuwani, wat eers deel van die Makhado-munisipaliteit in Louis Trichardt was, ingelyf as deel van die nuutgestigte Collins Chabane-munisipaliteit. Dié munisipaliteit is een van vele in Limpopo wat die afgelope vyf jaar etlike miljoene rande onregmatig belê het in VBS Mutual-bank, wat intussen ondergegaan het.
Die ANC in Limpopo is in beheer van 23 van die 25 munisipaliteite.
Slegs die Thabazimbi-munisipaliteit en die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit in die Waterberg-streek word deur koalisies van opposisiepartye regeer.
Luidens inligting van die Verkiesingskommissie (OVK) het Limpopo 'n bevolking van digby 6 miljoen mense. Die meeste inwoners, 55%, praat Sepedi, en slegs 2% praat Afrikaans.
Prof. André Duvenhage, politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit, sê die politieke spektrum is besig om te verskuif, nie net landwyd nie, maar ook in Limpopo, "teen die agtergrond van kantelpunt-politiek".
Volgens hom het die ANC groot uitdagings, maar baie van die mense is steeds nie bereid om vir 'n ander party te stem nie.
Stan Mathabatha, premier van Limpopo, sê daar is "geen twyfel" dat die ANC weer sal koning kraai op 1 November nie. Verskeie hooggeplaastes, soos David Mabuza, adjunkpresident van die land en die ANC, het al veral verafgeleë landelike gebiede in die provinsie besoek waar ANC-T-hemde en kos vir mense uitgedeel is.

EFF onttroon DA as amptelike opposisie
Die EFF het reeds in die 2014 in die algemene verkiesing die DA in Limpopo as die amptelike opposisie onttroon. In die plaaslike verkiesings van 2016 het die EFF wéér meer stemme (16,73%) as die DA (8,06%) gekry. Die EFF het tans sewe setels in die provinsiale wetgewer teenoor die drie van die DA.
In die koalisieregerings in Thabazimbi en Modimolle-Mookgophong het EFF-raadslede groot probleme veroorsaak deur glo nie altyd hul samewerking te gee nie. Jossey Buthane, EFF-leier in Limpopo, ontken dit en beskuldig weer ander politieke partye daarvan dat hulle nie húl samewerking aan die EFF wil gee nie.

Malema sal na verwagting weer op 1 November sy kruisie by die Mponegele Primary School in Seshego buite Polokwane trek, soos met die afgelope verkiesings. Hoewel Malema 'n reuse-aanhang onder veral jong mense in Limpopo het, is daar steeds 'n huiwering onder jare lange ANC-kiesers om hom te steun.
Duvenhage sê hy verwag die EFF se steun in Limpopo kan met die komende plaaslike verkiesings groei, veral in gebiede waar die ANC "nie goed vaar nie en onderpresteer".
Malema het in aanloop tot 1 November reeds verskeie dorpies in Limpopo besoek.
Die DA
Altesaam 8,06% van die kiesers het in die plaaslike verkiesings in 2016 vir die DA gestem, wat die party die derde grootste in Limpopo maak.
Die party vaar egter deesdae in onstuimige waters nadat Jacques Smalle, partyleier, deur die DA se federale bestuur as provinsiale DA-leier geskors is, hangende 'n ondersoek na beweerde geldelike onreëlmatighede.
Die DA het dus nie tans 'n leier in die provinsie nie. Om 'n oog oor die provinsie te hou het die party se federale bestuurder twee administrateurs, dr. Annelie Lotriet, DA-LP, en James Masango, ondervoorsitter van die DA se federale raad, aangestel, terwyl Smalle geskors is. Desiree van der Walt, 'n DA-LP en jare lange inwoner van Tzaneen, is die provinsiale verkiesingsveldtogbestuurder.

Theo Venter, politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit, sê die DA in Limpopo "vaar op die oomblik glad nie goed nie". Hy voorspel dat hul steun in die komende verkiesing skerp gaan daal.
Duvenhage is dit eens met hom dat die DA verdere stemme op 1 November kan verloor.
Van der Walt sê die DA werk hard om die setels te behou wat die party in 2016 in Limpopo verwerf het en om te verbeter.
"In die Thabazimbi- en Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, waar ons in 'n minderheidsregering die afgelope vyf jaar is, werk ons vir 'n DA-meerderheidsregering. As die gemeenskappe verenig, kan ons hier wen. Ons slagspreuk ‘Die DA kry dinge gedoen' eggo ons prestasies."
Van der Walt was Vrydag aan die sy van John Steenhuisen, DA-leier, toe hy Thabazimbi en Modimolle besoek het.
In Thabazimbi regeer die DA as deel van 'n koalisie met die VF Plus, die Thabazimbi-belastingbetalersvereniging en die EFF, sedert 2016. Steenhuisen het na die ander partye in die koalisie gekap en gesê hulle deel nie "die werksetiek en toewyding" van die DA nie. Die dorp se waterprobleme duur voort.

Marlene van Staden is sedert 2016 die DA-burgemeester in die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit. Sy het onlangs 'n samewerkingsooreenkoms, wat as die eerste in sy soort beskryf word, met AfriForum aangegaan waar hulle hul kennis en vaardighede aanwend om dienslewering in die munisipaliteit te help verbeter.
In die buurdorp Bela-Bela het die DA in September 'n strafregtelike klag teen die munisipaliteit aanhangig gemaak oor omgewingsbesoedeling weens die rioolwerke in die dorp wat al jare nie in stand gehou word nie.
Inwoners in etlike dorpe soos Bela-Bela, Thabazimbi, Mookgophong, Polokwane, Louis Trichardt en Phalaborwa is ontstig omdat hul krane meestal droog is.
VF Plus

Baie van dié ontevrede inwoners nader die VF Plus vir hulp, sê Marcelle Maritz, leier van die VF Plus in Limpopo.
Maritz is die enigste lid van die VF Plus wat 'n setel in die provinsiale wetgewer het.
Sy het onder meer die Menseregtekommissie (MRK) in Limpopo genader om die rioolvuilbesoedeling in Bela-Bela, Mookgophong en Thabazimbi te ondersoek.
"Die VF Plus word oorval deur navrae uit verskeie dorpe en dit dui vir ons op groot groei. Ons steun gaan beslis toeneem," meen Maritz.
Sy sê die VF Plus het kandidate in 16 munisipaliteite in Limpopo. Hulle fokus veral op Bela-Bela, Modimolle, Mookgophong, Thabazimbi, Mokopane en Polokwane.
Polokwane, die hoofstad van Limpopo, se watertekort het die afgelope vyf jaar vererger onder die leierskap van Thembi Nkadimeng, voormalige burgemeester. Daar is bykans nie 'n erf in die stad waar daar nie 'n JoJo-tenk is waarin inwoners water opgaar vir wanneer die reservoirs leeg is weens die verouderde infrastruktuur nie. Nkadimeng is onlangs bevorder tot adjunkminister van samewerkende regering en tradisionele sake.
Die VF Plus word oorval deur navrae uit verskeie dorpe en dit dui vir ons op groot groei. Ons steun gaan beslis toeneem.
John Mpe, wat die burgemeester van die Capricorn-distriksmunisipaliteit was en nou burgemeester van Polokwane is, beloof dat die watervoorsiening aan die stad sal verbeter.
Maar Maritz sê "die eerste stap van verandering begin by die kieser om die regte besluit te neem om vir 'n party te stem wat na hul belange en regte omsien. Belastingbetalers moet die diens kry waarop hulle geregtig is."
Sy sê mense moet vir die VF Plus stem sodat dié party die "koningmaker" in dorpe kan wees om in te gryp by die verval wat onder die ANC se bewind gebeur het. "Ons wil 'n toekoms verseker vir die dorpe wat nou sonder water is, waar rioolvuil die omgewing besoedel en die dorpe boonop onder kragonderbrekings gebuk gaan."
Duvenhage meen alles dui daarop dat die DA stemme aan die VF Plus in Limpopo gaan afstaan. Volgens hom gaan daar nasionaal ook 'n groter fokus wees op kleiner partye.
Mense wat nie met die DA of die VF Plus geassosieer wil word nie, kan moontlik onafhanklike forums soos belastingbetalersverenigings ondersteun, sê Duvenhage.
Munisipaliteite
Een so 'n belastingbetalingsvereniging is die Mogalakwena Citizens Association in Mokopane.
Die Valke het in September toegeslaan op dié munisipaliteit nadat Ramaphosa vroeër vanjaar die spesiale ondersoekeenheid (SOE) opdrag gegee het om 'n ondersoek te doen.
Die Mogalakwena-munisipaliteit is reeds in Desember 2019 onder administrasie geplaas ná beweerde wanadministrasie, korrupsie en bedrog van jare lank.
Vyftien mense, onder wie 'n oudburgemeester, is in hegtenis geneem, maar weer vrygelaat omdat daar glo 'n fout met die lasbriewe ingesluip het. Die 15 sal later vanjaar in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof, wat in die hooggeregshof in Polokwane sit, verskyn.
Luidens inligting van die ouditeur-generaal (OG) het die Mogalakwena-munisipaliteit van 2017 tot 2020 die bedrag van R1,17 miljard se onregmatige uitgawes aangeteken.
Die situasie is in Julie 2019 op die spits gedryf met die moord op twee ANC-lede. Vaaltyn Kekana (54) en Ralph Kanyane (32) het enkele ure voordat hulle doodgeskiet is, in 'n raadsvergadering gevra dat 'n forensiese ondersoek na beweerde tenderbedrog in die Mogalakwena-munisipaliteit gedoen moet word. Nog niemand is weens die moorde in hegtenis geneem nie.
Inwoners van Mokopane en Mahwelereng is keelvol vir die voortslepende watertekorte en kragonderbrekings.
Die SOE doen ook ondersoeke in die Mopani-distriksmunisipaliteit in Tzaneen, die Fetakgomo-Tubatse-munisipaliteit in Burgersfort en die Elias Motsoaledi-munisipaliteit in Groblersdal weens beweerde wanadministrasie en korrupsie.




















