Met die laaste stemme in die plaaslike verkiesings wat Maandagaand uitgebring is, skuif alle aandag nou na die uitslae wat drupsgewys by die Verkiesingskommissie (OVK) se nasionale uitslagsentrum in Pretoria sal aankom.
Dr. Nomsa Masuku, OVK-kommissaris, het Maandagaand gesê die tel van stemme sou onmiddellik begin sodra stembusse om 21:00 sluit.
"Die eerste uitslae word ná middernag verwag."
Die verwagting is dat die finale uitslae later die week bekend gemaak sal word.
Onderstaande is wat Netwerk24 fyn sal dophou totdat die finale uitslae verklaar word:
Kiesersopkoms: Daar is reeds vrese dat vanjaar se kiesersopkoms die laagste tot nog toe sal wees. Dr. Piet Croucamp, politieke ontleder van die Noordwes-Universiteit se Sakeskool, het Maandag 'n verwagte lae kiesersopkoms onder meer toegeskryf aan die ontnugtering van kiesers met die ANC, asook opposisiepartye.
Steun vir partye: 'n Reeks meningspeilings van die marknavorsingsfirma Ipsos Suid-Afrika dui daarop - en politieke ontleders meen - dat die ANC se steun vanjaar vir die eerste keer laer as 50% landwyd kan daal.
Leiers van politieke partye, soos pres. Cyril Ramaphosa (ANC), John Steenhuisen (DA), Julius Malema (EFF) en dr. Pieter Groenewald (VF Plus), was Maandag egter nog vol vertroue dat hul partye baie goeie steun sal kry.
Metro's: Die uitslae van al agt metro's, maar veral dié van Johannesburg, Tshwane en Nelson Mandelabaai, sal fyn dopgehou word omdat geen party in 2016 'n volstrekte meerderheid in dié drie gekry het nie. Die meeste opposisiepartye het reeds hul burgemeesterskandidate vir die metro's aangewys, maar die ANC het dit, soos ook in vorige verkiesings, nie gedoen nie.
Koalisieregerings: Verskeie kenners meen dat daar vanjaar al hoe meer koalisieregerings sal wees namate daar in talle munisipaliteite nie 'n volstrekte meerderheid behaal word nie. Ramaphosa het vroeër aangedui "koalisies is nie deel van sy woordeskat nie", terwyl Steenhuisen gesê het die DA sal slegs in koalisies tree met partye wat dieselfde waardes as die DA het.


















