Steun vir ANC gaan onder 50% daal, wys peiling

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Maandag is D-dag vir politieke partye.  Foto: Deaan Vivier
Maandag is D-dag vir politieke partye. Foto: Deaan Vivier

Steun vir die ANC gaan heel waarskynlik tot onder 50% daal in Maandag se plaaslike verkiesings.

Dít is een van die bevindings in 'n reeks voorverkiesings-peilings wat die marknavorsingsmaatskappy Ipsos Suid-Afrika oor die hele Oktober vir die televisienuuskanaal eNCA gedoen het.

Ipsos se jongste peiling daaroor is Sondag op die vooraand van dié uiters belangrike verkiesings uitgereik. Die maatskappy beskryf die bevinding oor die tanende ANC-steun as " 'n verskynsel wat nie voorheen algemeen gesien is nie".

Twee onafhanklike politieke ontleders het Sondag saamgestem dat ANC-steun tot onder 50% kan daal, maar het bygevoeg dat dié persentasie net van toepassing is op proporsionele verteenwoordiging. Dit is 'n aanduiding van hoe die ANC in die volgende nasionale verkiesing kan vaar.

Kate Bapela, woordvoerder van die Verkiesingskommissie (OVK), het Sondagmiddag gesê Saterdag en Sondag se spesiale stemmery het ten spyte van enkele vertragings en ontwrigtings volgens plan verloop. Dit het die OVK ook die geleentheid gebied om sy operasies, prosesse en logistiek vir Maandag se stemdag te verfyn.

Bheki Cele Foto: Son
Bheki Cele Foto: Son

Bheki Cele, minister van polisie, het Sondag in Durban gesê die polisie en weermag is slaggereed om Maandag die "integriteit van die verkiesings, die beweging van stem-materiaal en die verkiesingsuitslae te beveilig".

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het Saterdag in 'n verklaring sterk wind op stemdag in die Wes-Kaap en die suidelike dele van die Noord-Kaap voorspel. Buie met winderige toestande word ook in die Oos-Kaap verwag, asook sterk wind oor die Suid-Vrystaat.

Geen noemenswaardige weergebeurtenisse word vir elders voorspel nie met Gauteng wat grootliks mooiweer sal hê.

Ipsos voorspel in 'n ander peiling dat Johannesburg en Tshwane in Gauteng, en Nelson Mandelabaai in die Oos-Kaap, weer die drie mees bestrede metro's in Maandag se verkiesings sal wees.

Die jongste Ipsos-eNCA-peiling lui onder meer dat die periode sedert die nasionale en provinsiale verkiesing in 2019 nie vir enige politieke party in Suid-Afrika maklik was nie. As die Covid-19-pandemie, die stadige pas van inentings, diensleweringsprobleme in die meeste munisipaliteite, beurtkrag, probleme met watertoevoer, sowel as die verkorte verkiesingsveldtog hierby gevoeg word, "is dit onmoontlik om met sekerheid die uitslag van hierdie taamlik morsige en unieke verkiesings te voorspel", word in 'n verklaring by die peiling gesê.

Hoewel 26,2 miljoen kiesers geregistreer het om Maandag te stem, sal nie almal daarvoor opdaag nie, sê Ipsos.

Die ANC se geveg teen homself gaan oor of hy onder of bo 50% kry. My voorgevoel is dat die ANC onder 50% sal kry. As die DA 20% van die steun kry, het hy goed gevaar. As dit so is, sal dit ten koste van die VF Plus wees.

—  Theo Venter

As alle geregistreerde kiesers wat aangedui het dat hulle wil stem, Maandag by stemlokale opdaag en hul kruisies trek, skat die peiling dat die ANC 43,4% van die steun sal kry en die DA 24,2%.

Die EFF sal 14,8% van die steun kry, ActionSA 3,7%, die IVP 1,9%, die VF Plus 1,6% en die ACDP 0,9%.

Die politieke ontleder Theo Venter sê die jongste Ipsos-peiling se skattings "is baie naby aan wat ek heeltyd sê".

"Die ANC se geveg teen homself gaan oor of hy onder of bo 50% kry. My voorgevoel is dat die ANC onder 50% sal kry. As die DA 20% van die steun kry, het hy goed gevaar. As dit so is, sal dit ten koste van die VF Plus wees."

Venter skryf die geskatte toename van die EFF-steun toe aan die swakker steun vir die ANC.

Die DA het verskeie eie doele aangeteken in sy veldtog en ek dink nie hy gaan beter as in die vorige plaaslike verkiesings vaar nie. EFF-steun sal wel toeneem, maar nie verdubbel nie.

—  Dr. Ntsikelelo Breakfast

Dr. Ntsikelelo Breakfast, politieke ontleder verbonde aan die Nelson Mandela-Universiteit, sê hoewel peilings versigtig benader moet word, stem hy saam dat die ANC Maandag onder 50%-steun sal kry.

"Die DA het verskeie eie doele aangeteken in sy veldtog en ek dink nie hy gaan beter as in die vorige plaaslike verkiesings vaar nie. EFF-steun sal wel toeneem, maar nie verdubbel nie," het Breakfast bygevoeg.

SPELETJIES VANDAG

CTA