Sy wil Heidedal regruk, sê ANC-kandidaat

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Logan Kruger  Foto: Kaydene Davids
Logan Kruger Foto: Kaydene Davids

As sy in die plaaslike verkiesings wen, is haar droom om Heidedal reg te ruk en te sien dat inwoners eienaarskap van hul gemeenskap neem.

"As hulle eienaarskap neem, sal hulle nie hul vullis oral stort en by skole inbreek nie," het Logan Kruger (40), ANC-kandidaat in Heidedal, Maandag op stemdag gesê.

Kruger, wat jare lank opheffingswerk in die gemeenskap doen, wil weer koördineerders in elke straat aanstel om probleme aan te meld sodat dit so spoedig moontlik opgelos kan word.

Sy het benadruk dat sy nie " 'n verlosser" is nie en dat sy dit slegs met die hulp van die gemeenskap sal kan doen.

Kruger sê vanweë haar gemeenskapswerk dra sy kennis van die uitdagings in die gemeenskap. Sy sê hulle kan die probleme egter nie alleen oplos nie en daar moet 'n beroep op die private sektor gedoen word om te help.

Sy meen ook daar moet proaktief opgetree word as hulle Heidedal wil regruk.

Kruger sê sy is positief oor die verkiesings en hoop dat inwoners haar 'n kans sal gee om haarself verder te bewys.

"Ek is lief vir my woonbuurt. Ek dien al jare my mense. Ek vertrou dat hulle my die kans sal gee om nog meer vir hulle te doen."

Sy glo dat haar gemeenskapswerk en haar honneursgraad in mensehulpbronne haar 'n voorsprong gee om haar gemeenskap te dien.

SPELETJIES VANDAG

CTA