Lindy Radebe van die township Phahameng by Bultfontein in die Vrystaat het vir die VF Plus gestem "want hulle belowe nie 'n klomp goed nie, maar kom met verandering".
Radebe het Maandagmiddag onder dié party se groen gazebo by die stempunt in Phahameng met 'n brosjure in die hand verduidelik waarom sy nou 'n VF Plusser is.
"Hulle belowe ons nie huise nie, hulle belowe ons nie R350 per maand nie, maar hulle kom met verandering, en dis waarom ek nou vir hulle stem.
"Alles wat die president gesê het toe hy hier was, het my gemotiveer om vir die VF Plus te stem."
Langs haar in die skaduwee het Thapelo Motlohi gesit, met 'n VF Plus-hemp aan.

Hy het party-brosjures uitgedeel met 'n gratis handreiniger waarop gestaan het: "Stem met 'n skoon gewete."
"Baie mense sê die VF Plus is 'n wit party, maar daar is deesdae nie meer so iets nie. Ons is versaak deur die party wat ons ons hele lewe lank ondersteun het," het Motlohi gesê
Hy het twee jaar gelede oorgeskuif na die VF Plus toe "want daar is nie 'n ander party wat 'n mens kan vertrou nie".
Daar is min mense in die township wat hom en die ander VF Plus-lede hier veroordeel, het hy gesê.
"Eintlik is daar baie wat ons nou wil volg. Hulle besef daar is hoop."
Vir hom is dit sleg dat hy nie ook goed betaal kan word soos so baie wat vir die ANC werk nie.
"Ek het presies dieselfde geleerdheid as hulle."

Radebe het gesê 'n tiental van die township se inwoners het sommer vroegoggend al belangstelling in die VF Plus getoon en brosjures geneem.
Hier, op die platteland noord van Bloemfontein, het inwoners deur die dag stuksgewys by die stempunte aangemeld.
In Bultfontein, waar van die huise en tuine netjies in stand gehou word, is die strate gehawend soos in die res van die dorpe in die provinsie.
Frané Naudé het oor middagete haar kruisie by die stempunt in die stadsaal getrek.
"My grootste hoop is dat die slaggate iets van die verlede sal wees!"
Buite Soutpan by die stempunt langs die NG kerk was daar teen middagete nie 'n enkele kieser nie, maar Evelyn Sebothelo, 'n beampte van die Verkiesingskommissie, het om 13:00 gesê daar was reeds 66 inwoners van Soutpan wat hul kruisie hier getrek het.
- In Kareehof, Boshof, het kiesers ure lank gewag om in 'n klein vertrek met twee stemhokkies te stem. Dié vertrek was deel van 'n kleuterskoolgebou wat vroeër onveilig verklaar is. Meer as 2 600 kiesers was hier geregistreer om te stem, het Gerda-Marie van Rooyen berig.





















