Van Cyril tot Mashaba glo hul partye sal presteer

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Mense stem by die munisipale kantore in Akasia in Pretoria. Foto: Deaan Vivier
Mense stem by die munisipale kantore in Akasia in Pretoria. Foto: Deaan Vivier

Pres. Cyril Ramaphosa, die ANC-leier, en die leiers van verskeie ander partye was Maandag deur die bank vol vertroue dat hul partye goed sal presteer in die plaaslike verkiesings.

Nadat Ramaphosa en sy vrou, dr. Tshepo Motsepe, by die Hitekani Primary School in Chiawelo, Johannesburg, gaan stem het, het die president gesê hy is seker sy party sal al drie die metrorade in Gauteng (Johannesburg, Tshwane en Ekurhuleni) verower.

Ramaphosa het weer erken dat die regerende party nie aan al die verwagtinge van sy kiesers en die landsburgers voldoen het nie. Hy glo die kiesers sal op een van twee maniere stem - "uit ondersteuning vir dít waarin hulle glo, of uit protes vir dít waarin hulle nie meer glo nie".

Ramaphosa sê hy hoop dat enige party wat wen die munisipale sake voortaan op 'n ander manier sal benader.

John Steenhuisen, DA-leier, wat by die Northwood High School in Durban gestem het, het gesê die DA sal nie sommer met enige party "in die bed spring" en koalisies vorm nie.

"Dit is belangrik dat die ANC minder as 50% van die stemme moet kry. Die DA sal egter nie sommer met enige party in die bed spring en koalisies vorm nie.

"Indien ons koalisies vorm, sal die betrokke partye dieselfde waardes as ons moet deel. Waardes soos nierassigheid en die geveg teen korrupsie.

"Ons kan nie weer in dieselfde situasie beland soos in Johannesburg waar die EFF vir (Herman) Mashaba (destydse DA-burgemeester van die Johannesburg-metroraad) gebruik het om hul beleid in werking te stel nie," het Steenhuisen aan Netwerk24 gesê.

Hy sê hy is vol hoop dat die DA verandering in die eThekwini-metro (Durban) sal bring waar grootskaalse onluste in Julie geheers het nadat oudpres. Jacob Zuma vroeër tronk toe gestuur is.

Dit is belangrik dat die ANC minder as 50% van die stemme moet kry. Die DA sal egter nie sommer met enige party in die bed spring en koalisies vorm nie.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het by die stempunt by die plaaslike krieketklub in Stilfontein in Noordwes (Matlosana-munisipaliteit) herhaal hy glo sy party kan dubbeld soveel stemme as met die vorige plaaslike verkiesings in 2016 op hom verenig.

Hy glo dit is moontlik wanneer die uitslae van die algemene verkiesing van 2019 in aanmerking geneem word.

"Ek sal baie tevrede wees as ons ons steun kan verdubbel," het Steenhuisen gesê.

Hy glo die VF Plus sal landwyd 'n groot rol speel wat moontlike koalisievorming betref.

"Ons glo dat ons in die metrorade van Nelson Mandelabaai (Gqeberha), selfs in Kaapstad en ook in Tshwane (Pretoria) en Johannesburg koningmakers kan wees.

"Dan is daar ook 20 ander munisipaliteite oor die land heen waar ons die koningmakers kan wees," sê Groenewald. Hy het opnuut gesê sy party sal nie in 'n koalisie met die ANC of EFF tree nie.

Julius Malema, EFF-leier, in Polokwane waar hy sy stem uitgebring het. Foto: Marietie Louw-Carstens
Julius Malema, EFF-leier, in Polokwane waar hy sy stem uitgebring het. Foto: Marietie Louw-Carstens

Julius Malema, EFF-leier, het nadat hy sowat vier uur laat opgedaag het by die stempunt in Seshego, Polokwane, waar hy geregistreer is, gesê hy was aanvanklik baie bekommerd oor die apatie onder jong Suid-Afrikaners om te stem, maar hy is tevrede dat al hoe meer jong mense hul stemme uitgebring het.

"Hulle besef die toekoms is in hul hande," het Malema gesê.

Hy is ook baie tevrede dat die EFF-takke baie goed georganiseerd is en dat die party daarom nóg beter sal vaar as in die vorige plaaslike verkiesings en die algemene verkiesing twee jaar gelede.

Nadat hy by die Sandton-brandweerstasie in Johannesburg gestem het, het Herman Mashaba, leier van ActionSA, wat na verwagting 'n groot rol in die verkiesing in Johannesburg sal speel - waar hy tot twee jaar gelede nog die DA-burgemeester was - aan die SAUK gesê hy is vol vertroue dat sy party beheer van Johannesburg, Suid-Afrika se grootste stad, sal oorneem. - Sarel van der Walt, Arisa Janse van Rensburg, Dennis Delport, Marietie Louw Carstens en Susan Cilliers

SPELETJIES VANDAG

CTA