VF Plus dien bedrogklag oor spesiale stemlys in

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die Verkiesingskommissie (OVK) in die Wes-Kaap het Sondag bevestig dat hulle kennis dra van die saak van bedrog wat die VF Plus by die polisie in die Paarl aanhangig gemaak het.

Michael Hendrickse, provinsiale verkiesingsbeampte, het Sondag gesê die OVK sal sy volle samewerking gee sou die polisie hulle om hulp nader.

Rehan Kruger, die VF Plus se kandidaat in wyk 3 in die Drakenstein-gebied, het die klag Vrydag by die polisie ingedien. Wyk 3 bestaan hoofsaaklik uit 'n landelike gemeenskap.

Kruger het ontdek dat sy naam, sowel as die van ander lede van sy familie se name, op die spesiale stemlys is.

André Fourie, die VF Plus se burgemeesterskandidaat vir Drakenstein, het gesê nie Kruger of enige lid van sy familie het aansoek gedoen om 'n spesiale stem uit te bring nie.

Volgens Fourie toon die lys aan dat 1 092 geregistreerde kiesers uit 'n totaal van 1 110 in wyk 3 aansoek gedoen het om 'n spesiale stem uit te bring. Dit verteenwoordig 98,38% van die kiesers.

"Benewens die feit dat mnr. Kruger nie aansoek gedoen het om 'n spesiale stem uit te bring nie, is dit duidelik dat daar ernstige ongerymdhede rondom die lys bestaan en dat daar duidelik met die spesiale stem-aansoeke gepeuter is."

Fourie het gesê hulle het die OVK in Drakenstein asook die betrokke munisipale kiesbeampte genader om kommentaar, maar het geen antwoord ontvang nie.

Daarna het hulle die klag by die polisie ingedien.

Hy het gesê hulle is ook bewus van moontlike soortgelyke ongerymdhede in ander wyke, maar ondersoek dit nog. Volgens Fourie was die polisie reeds Saterdag met Kruger in verbinding.

Benewens die feit dat mnr. Kruger nie aansoek gedoen het om 'n spesiale stem uit te bring nie, is dit duidelik dat daar ernstige ongerymdhede rondom die lys bestaan en dat daar duidelik met die spesiale stem-aansoeke gepeuter is.

Spesiale stemme kon reeds vanaf Saterdag tot Sondag (vandag) uitgebring word.

Fourie het gesê die VF Plus is bekommerd oor die omvang van hierdie moontlike bedrogspul en sal aanhou om dit te ondersoek om dit tot op die been oop te vlek.

SPELETJIES VANDAG

CTA