Die VF Plus wil die "gekaapte" Mangaung-metromunisipaliteit in Bloemfontein en ook ander gekaapte munisipaliteite in die land deur koalisieregerings ontset.
Die party wil dit verder doen deur slegs gekwalifiseerde, bekwame mense aan te stel en 'n einde te bring aan hemelhoë salarisse met munisipale bestuurders wat meer as die president verdien.
So het dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, Woensdag op 'n ontbyt-geselligheid in die Vrystaatse Nasionale Botaniese Tuin in Bloemfontein gesê.

Hy het gesê 'n koalisieregering is nie sleg as 'n mens na Duitsland en Israel kyk nie. Dit hoef nie onstabiliteit te veroorsaak nie.
Die VF Plus sal egter nooit met die ANC of die EFF 'n koalisie vorm nie.
"Die VF Plus en 'n party soos die DA en ander kleiner partye sal 'n koalisieregering kan vorm, maar daar moet opgehou word om kleinlike politiek te speel deur vir mense te vertel dat 'n stem vir 'n kleiner party soos die VF Plus 'n vermorste stem is.
"Dit is opportunistiese politieke propaganda wat demokrasie ondermyn en wys dat iemand nie die kiesstelsel verstaan nie. Buitendien is die VF Plus onder die vyf grotes.

"Elke stem vir 'n opposisieparty tel teen die regerende ANC. Daarom is dit belangrik dat mense wel op 1 November sal stem om die ANC uit die kussings te lig. Om weg te bly is so goed soos 'n stem vir die ANC en dit sê jy het boedel oorgegee."
In die metromunisipaliteite sal daar twee stembriewe wees en nie drie nie, soos in kleiner munisipaliteite.
"Mense sal hier vir hul wykskandidaat kan stem en ook vir hul party. As die wykskandidaat van 'n party nie wen nie, tel daardie stem steeds omdat dit ook by die proporsionele stem gevoeg word. Dit bepaal dan hoeveel setels 'n party kry."
Groenewald sê altesaam 43% van munisipale amptenare beskik nie oor die minimum kwalifikasies nie en die VF Plus wil hê hulle moet afgedank word.
Personeel-oudits is nodig om te verseker dat almal kwalifikasies het.


"Swart ekonomiese bemagtiging (SEB) is 'n rookskerm vir kaderontplooiing."
Die VF Plus sê in sy verkiesingsmanifes: "Stop die verval." Die verval bedreig mense se lewens omdat mense al byvoorbeeld oor slaggate hul lewe in motorongelukke verloor het.
Hy blameer die ANC vir die verval.
"Eers as die verval gestop is, kan (weer) gebou word."
Munisipaliteite moet hul geld reg gebruik.
"46% van munisipaliteite se begrotings gaan vir salarisse. Slegs 2% van begrotings gaan vir infrastruktuurontwikkeling en onderhoud en dit moet omgekeer word.
"Slegs 44% van munisipaliteite in die land het 'n behoorlike onderhoudsplan en by net 12 van die 257 munisipaliteite is dit behoorlik geïmplementeer."
Verder is 48% van finanshoofde by munisipaliteite nie gekwalifiseerd nie. Hulle moet vervang word, omdat hulle meer as 'n miljard op konsultante uitgee.
Diensleweringsgelde wat in 'n wyk betaal word, moet weer in dieselfde wyk teruggeploeg word. "Geld wat vir water en elektrisiteit betaal is, moet uitsluitlik gebruik word om verskaffers te betaal," sê hy.
Groenewald sê wat ekonomiese ontwikkeling betref, kan erwe in nywerheidsgebiede gratis weggegee word sodat werk geskep word.
Die VF Plus en 'n party soos die DA en ander kleiner partye sal 'n koalisieregering kan vorm.
Hy het gesê die nasionale regering gee R10 miljard vir gratis water- en elektrisiteitslewering vir behoeftiges, maar net R2 miljard kom by hulle uit. Waar is die res?
"Tenders moet ook aan plaaslike sakelui gegee word."
Hy het voorts gesê dat die VF Plus vir desentralisasie in munisipaliteite staan waar dorpe weer hul eie munisipaliteite moet kry.
Die VF Plus wil ook hande met plaaslike organisasies soos AfriForum vat.
Hy het verwys na Mangaung se metropolisie wat, volgens wat hy verneem het, ontbind moet word.
"My idee van 'n metropolisie is dat hulle net omkoopgeld wil vat en daarsonder nie dienste wil lewer nie.
"Inwoners moet betrokke raak by buurtwagte en in 'n groot mate vir hul eie veiligheid sorg."
Hy sê die VF Plus wil 'n sterk boodskap van hoop uitdra en graag met ander partye saamwerk wat dieselfde gedagtes het.
Wouter Wessels, verkiesingshoof van die VF Plus, het gesê die party wil die glorie van die Stad van Rose herstel.
Grootste probleme in Mangaung
Prof. Elizabeth Snyman van Deventer, VF Plus-koukusleier in Mangaung, het op dieselfde ontbytgeselligheid by navraag gesê die grootste probleem in Mangaung is die geldvermorsing. Dit is soos op die volgende projekte:
* Die Mangaung-metropolisiediens;
* Die N8-korridorontwikkeling; en
* Die Hauweng-busdiens, waarvoor agt haltes nou teen R1,3 miljoen elk, altesaam R11 miljoen, gebou moet word. "Vir R1,3 miljoen bou 'n mens 'n drieslaapkamerhuis."





















