Verkiesing 2021

Winde van verandering gaan in uMngeni waai, belowe DA

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Chris Pappas aan die woord oor die DA se oorwinning in uMngeni. Foto: Melinda Stuurman
Chris Pappas aan die woord oor die DA se oorwinning in uMngeni. Foto: Melinda Stuurman

"Dit gaan moeilik wees, maar ons is hier om verandering vir die mense van uMngeni te bring."

Dit was Woensdag die woorde van Chris Pappas, die pas aangewese burgemeester van die uMngeni-munisipaliteit in KwaZulu-Natal, waar die DA nou sal regeer.

Die DA het dié munisipaliteit in die plaaslike verkiesings met 'n meerderheidstem gewen. Nadat al die stemme in uMngeni getel is, het die DA met 13 van die 25 beskikbare setels en 47,41% van die stemme weggestap.

Dit is ook die eerste munisipaliteit in KwaZulu-Natal wat deur die DA regeer sal word. Dit was voorheen onder die ANC se bewind.

"Dit gaan nie 'n maklike taak wees nie. Dit is 22 jaar se vervalle regering wat ons moet herstel, maar ons is hier vir die mense en wil hulle wys dat die DA verandering kan bring," het Pappas in Howick gesê.

Hy het dié gemeenskap besoek om hulle te verseker dat die DA verandering teweeg sal bring.

Ons sal ook na omstrede kontrakte en tenders kyk en dit ondersoek. Indien verkeerd opgetree is, sal mense verantwoordelik gehou word.

Volgens Pappas is die eerste groot taak in uMngeni om die "kultuur" in die munisipaliteit te verander. "Ons is bereid om saam met die huidige amptenare hier te werk. Maar hulle sal moet besef dat indien hul werk 08:00 begin, dan begin ons 08:00. Hulle sal met passie moet werk. Ons boodskap is ook dat indien jy korrup is, is daar nie plek vir jou in ons regering nie."

Die 30-jarige Pappas sê daar sal ook vroeg na die munisipaliteit se begroting gekyk word om vas te stel waar koste bespaar kan word.

"Ons sal ook na omstrede kontrakte en tenders kyk en dit ondersoek. Indien verkeerd opgetree is, sal mense verantwoordelik gehou word."

Hy het gesê dit is ook belangrik dat die DA werkgeleenthede skep deur ondernemings na die munisipaliteit te lok.

"Ons wil ook mense nooi om in ons mooi gebied vakansie te kom hou."

Hein Pistorius, inwoner van Howick, het Woensdag gesê daar kon nie iets beters met die munisipaliteit gebeur nie. "Die DA hou sy woord. Uiteindelik sal ons nou dienslewering ervaar. Ek is baie bly daaroor," het hy gesê.

Kenners het ook Dinsdag aan Netwerk24 gesê dat die DA se oorwinning in die uMngeni-munisipaliteit "reusagtig" vir dié party is en dit kan sy toekoms in dié provinsie bepaal.

"In die groter prentjie is dit 'n enorme ontwikkeling in die politiek van KwaZulu-Natal," het prof. Siphamandla Zondi, politieke kenner verbonde aan die Universiteit van Johannesburg, gesê.

Volgens Zondi sal dit nie moeilik wees vir die DA om 'n sukses van uMngeni te maak nie.

"uMngeni is 'n belangrike munisipaliteit wat ernstige probleme ondervind. Die standaard is so swak dat indien die DA net die basiese dinge doen, sal soos 'n groot sukses lyk. Indien die DA nie suksesvol in uMngeni is nie, het hy net homself om te blameer," het Zondi gesê.

CTA