Plaaslike verkiesings

Skoon oudits vergete nadat dorp begin stem vir ANC

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Kallie Louw, DA-raadslid in Matzikama, by ’n stukkende rioolpompstasie. In die agtergrond is ’n boer se wingerd waar die riool inloop.Foto: Edrea du Toit
Kallie Louw, DA-raadslid in Matzikama, by ’n stukkende rioolpompstasie. In die agtergrond is ’n boer se wingerd waar die riool inloop.Foto: Edrea du Toit

In die ANC-beheerde Matzikama-munisipaliteit aan die Weskus het "politieke inmengery" glo so erg geword dat die huidige ANC-speaker enkele weke voor die munisipale verkiesing uit die party bedank het. Patric Bok, die ANC-speaker in Matzikama, het verlede week na Gayton McKenzie se Patriotic Alliance (PA) oorgeloop. Bok het sy bedanking Vrydag bevestig.

Sammy Claassen, PA-adjunkleier in die Wes-Kaap, sê Bok kon nie meer saamleef met die politieke inmengery van die ANC in Matzikama nie. "Die Matzikama-munisipaliteit is bankrot bestuur deur die ANC. Patric is die tweede speaker in twee jaar wat nie meer daar kon uithou nie," sê Claassen.

Die Matzikama-munisipaliteit sluit dorpe in soos Vredendal, Klawer, Vanrhynsdorp, Lutzville, Koekenaap en Nuwerus.

Die ANC het in 2016 se munisipale verkiesings vir die eerste keer sedert 2000 beheer verloor oor Matzikama, toe die DA 55% van die steun gekry het en 'n DA-kandidaat in sewe van die agt wyke verkies is.

Sedertdien het die DA egter in drie agtereenvolgende tussenverkiesings 'n wyk aan die ANC afgestaan (sien grafika). Boonop het die DA se koalisie met die United Democrats (UD)-party in September 2019 verbrokkel. Die DA sê dit was omdat die UD, wat net 3% van die stemme in 2016 gekry het, op politieke aanstellings begin aandring het.

Skuld aan Eskom beloop R7,1miljoen.

Die ANC het toe oorgeneem.

Sedertdien word aantygings van nepotisme, wanadministrasie en korrupsie gemaak en ondersoek.

Lede van die spesiale ondersoekeenheid het in Junie verlede jaar op die munisipale kantore in Vredendal toegeslaan as deel van 'n ondersoek na beweerde bedrog met persoonlike beskermende toerusting.

Die ouditeur-generaal het in haar jongste verslag gesê Matzikama is vrot van onreëlmatige uitgawes. In Junie 2019 nog het die munisipaliteit 'n skoon oudit gekry.

Skuld aan Eskom beloop nou R7,1 miljoen. Volgens die Wes-Kaapse departement van plaaslike regering is Matzikama een van net vier Wes-Kaapse munisipaliteite wat geld aan Eskom skuld.

'n Ooreenkoms wat die munisipaliteit in September aangegaan het om dié skuld te betaal, is 'n maand later reeds verbreek.

Tog het die munisipale raad meer as R1 miljoen bestee aan regskoste om 'n ondersoek deur Anton Bredell, LUR vir plaaslike regering, te probeer stuit ná bewerings van wanadministrasie en ernstige wanpraktyke in die raad.

Die hooggeregshof het in Maart besluit die ondersoek moet voortgaan. Rapport verneem die ondersoek gaan spesifiek politieke aanstellings bekyk.

Raadsaal-chaos lei volgens inwoners en die DA letterlik tot riool in die strate. Met Rapport se besoek die afgelope week was twee van Matzikama se dorpe, Vredendal en Vanrhynsdorp, sonder water. Op Facebook het die munisipaliteit beurtkrag die skuld gegee. Maar Johan van der Hoven, die DA se burgemeesterskandidaat, sê 'n munisipale ingenieur het aan hom verduidelik dit is weens infrastruktuur wat meegee.

"Infrastruktuur is 'n groot, groot probleem," sê Van der Hoven.

Kallie Louw, plaaslike DA-raadslid, sê die huidige bestuur makeer politieke wil en kennis. "Toe ons in 2016 kom oorvat het, het ons met die proses begin om die skip om te draai, en het ons 'n munisipaliteit wat in die skuld was eindelik met 'n positiewe bankbalans gelos. As ons hopelik weer beheer kry, dan gaan dit nóg moeiliker as 2016 se probeerslag wees om die geldsake reg te ruk."

Wanneer Louw die probleme opnoem, begin hy by baantjies vir boeties: "Familielede en vriende word links en regs aangestel by 'n munisipaliteit wat 45% van sy totale uitgawes aan salarisse bestee".

Onder die DA was dit 38% - en 33% word beskou as die ideaal.

Terwyl Rapport met Louw staan en gesels, kom kla 'n plaaslike boer oor riool in sy wingerde. Dis nie die eerste keer nie. " 'n Ander boer het reeds met 'n hofsaak teen die munisipaliteit begin oor 'n verlies aan inkomste omdat hy nie werkers in die riool kon instuur om sy wingerde te snoei nie," sê Louw.

In Vredendal-Noord het riool reg langs 'n laerskool in die strate ingeloop in 'n wyk wat die ANC in November 2019 by die DA gewen het.

Louw vertel ook hoe hy in Junie raadslede in 'n plaaslike restaurant moes gaan soek toe Vanrhynsdorp dae aaneen sonder water was.

"Daar sit en eet hulle toe steaks en bespreek die munisipaliteit se organigram, in plaas van planne maak om water by hul mense uit te kry."

Eindelik het plaaslike ondernemings en die provinsiale regering ingegryp.

Intussen probeer die DA aan sakelui in Matzikama verduidelik dat die geld op en hul hulp nodig is. "Ons het reeds vergaderings met die plaaslike sakekamer en die plaaslike Black Business Council belê, want ons gaan moet oop kaarte speel oor die geldelike toestand van die munisipaliteit," sê Louw.

Van der Hoven het in die plaaslike koerant belowe 'n advieskomitee van plaaslike sakemanne sal aangestel word as hy burgemeester word.

"Dan kan hulle sien dat hier eintlik nie eens meer geld is om straatligte reg te maak nie, en dat ons hande gaan moet vat om dinge reg te kry."

Die munisipaliteit en die burgemeesterskantoor het nie op versoeke vir kommentaar reageer nie.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM