Groot gesprekke en platsakplesiere

Van die beste dinge by die Toyota US Woordfees is verniet. Die groot Diskoersprogram, 'n deel van die Fliekfees en 'n ryk verskeidenheid kunsuitstallings kos jou niks. Onthou net, vir gratis aanbiedings kan geen plek bespreek word nie.

Die Burger/Netwerk24-gespreksreeks

Christi van der Westhuizen
Christi van der Westhuizen

Dié gesprekke, onder leiding van Tim du Plessis en Christi van der Westhuizen, sou aanvanklik R40 gekos het, maar ná verskeie versoeke bied die fees nou dié gewilde gespreksreeks weer gratis aan. Die gesprekke vind vanjaar in die Kruiskerk plaas met gemaklike sitplek en geen bekommernisse oor wind en weer nie. Alle gesprekke begin soggens om 11:00.

9 Maart:Suid-Afrika in 'n tyd van politieke storm en drang

Is die land onstuitbaar op pad na die afgrond of is 'n omdraaipunt bereik en herstel moontlik?

Met: Gareth van Onselen, Max du Preez en Alida Kok

10 Maart:Politiek en ekonomiese groei

Moet ons nie maar reguit vir mekaar sê 'n liberale demokrasie is nie noodwendig die beste politieke bedeling vir ekonomiese groei nie?

Met: Tony Leon, Piet Croucamp en Ebrahim Fakir

11 Maart:Wêreldpolitiek

Hoe lyk die wêreld drie maande ná Brexit? Is Donald Trump op pad na 'n tweede termyn as president? Waar staan Suid-Afrika?

Met: Anthoni van Nieuwkerk, Aditi Lalbahadur en Erwin Schwella

12 Maart:Voices From the Underground

Voormalige lede van Umkhonto we Sizwe, die samestellers van die boek Voices From the Underground, Shirley Gunn en Shanil Haricharan, en 'n nuwe generasie aktiviste praat oor die betekenis van politieke aktivisme, gister en vandag.

13 Maart:Universiteit in 'n tyd van krisis

Is ons beleërde openbare universiteite hoegenaamd nog toegerus om intellektuele leiding te gee vir 'n land in krisis?

Met: Andries Bezuidenhout, Carla Watson en William Gumede

Bespreek hier.

kykNET Aktueel-gespreksreeks

Heindrich Wyngaard
Heindrich Wyngaard

kykNET se gewilde aktualtiteitsprogramme bring vanjaar weer spesiale aanbiedinge na die fees. Dié 60 minuut lange gesprekke word soggens om 09:30 gratis by Die Khaya aangebied.

9 Maart:Prontuit met Kabous Meiring

Hoe ernstig neem 'n mens skolesport, veral rugby, op in 'n tyd van groot kompetisie en uitstekende loopbaangeleenthede?

Gaste: Dr. Wilbur Kraak (sportwetenskaplike, US), dr. Debbie Alexander (sportsielkundige) en Schalk Burger sr. (oud-Springbokspeler)

10 Maart:KLOP! met Heindrich Wyngaard

Daar word gekyk na Afrikaanssprekende mense wat hul kinders Engels grootmaak. Hoekom weier dié kinders om Afrikaans te praat en kan hulle nie enige ander amptelike tale praat?

Gaste: Danie van Wyk (bestuurder: Suid-Afrikaanse Ontwikkelingstrust), Sarah Koopman (skrywer) en Hemelbesem (kletsrymer)

11 Maart:kykNET Verslag met Waldimar Pelser

Wat wil Afrikaanse kiesers hê?

Gaste: John Steenhuisen (waarnemende DA-leier) en dr. Pieter Groenewald (nasionale leier: VF Plus)

12 Maart:kykNET Verslag met Lourensa Eckard

Die fokus val op vroue in die werkplek: Het ons 'n nuwe gesprek oor feminisme nodig in die lig van die #MeToo-beweging en onlangse gevalle van geweld teen vroue?

Gaste: Prof. Christi van der Westhuizen (politieke en sosiale kommentator), Ingrid Jones (mediapersoonlikheid) en Azille Coetzee (nadoktorale genoot in genderpolitiek, US)

  • Wat ook gratis bygewoon kan word, is, onder meer, die Netwerk24 Sake en Sauvignon-reeks oor beleggings in onstuimige tye, Rapport Regstreeks met Waldimar Pelser en Helen Zille, die Wat is die oplossing?-gespreksreeks onder leiding van dr. Leslie van Rooi, die Ongehoord-gespreksreeks, waarin vroue uit verskeie akademiese velde hul menings deel, die Suna Venter-gedenklesing met Quinton Adams, en Die groot debat oor die bestaansreg van liberalisme in Suid-Afrika met Piet Croucamp as fasiliteerder.
  • RSG se Praat saam kom ook oudergewoonte fees toe en takel in regstreekse uitsendings temas soos die vierde nywerheidsrevolusie, asook die energie- en grondkwessie.

Bespreek hier.

Fliekgesprekke

Die rolprentplakkaat van ‘Toorbos'.
Die rolprentplakkaat van ‘Toorbos'.

Danie Marais, die koördineerder van die Toyota US Woordfees-fliekfees, sal ná die volgende rolprente gesprekke voer met die rolprentmakers. Daar sal ook geleentheid vir vrae uit die gehoor wees. Fliekkaartjies kos R50 vooraf en R60 by die deur, maar die 45 minuut lange gesprekke ná die tyd kan gratis deur belangstellendes bygewoon word.

Toorbos

Die regisseur en draaiboekskrywer van Toorbos, René van Rooyen, vertel ná die spesiale voorskou op 7 Maart meer van haar verwerking van Dalene Matthee se geliefde roman tot 'n fliek.

Poppie Nongena

Die vervaardiger van Poppie Nongena, Helena Spring, en die aktrise wat die hoofrol speel, Clementine Mosimane, praat ná die vertoning op 8 Maart oor die verfilming van Elsa Joubert se klassieke roman.

Die verhaal van Racheltjie de Beer

Die akteurs Stian Bam en Sandra Prinsloo sal ná die vertoning op 13 Maart meer vertel oor die verfilming van hierdie geliefde ou volkslegende.

Griekwastad

Die regisseur en kinematograaf van Griekwastad, Jozua Malherbe, en die draaiboekskrywer, Tertius Kapp, praat ná die vertoning op 15 Maart oor die verwerking van hierdie ware gruwelverhaal tot misdaadriller.

Moffie

Die regisseur Oliver Hermanus gesels oor sy verfilming van André Carl van der Merwe se roman, wat die ervaring van 'n gay dienspligtige in die 1980's vasvang.

Bespreek hier.

Gesprekke oor historiese trauma en versoening

Die rolprentplakkaat van ‘Moffie'.
Die rolprentplakkaat van ‘Moffie'.

Oliver Hermanus se Moffie kom ook onder die loep in die gespreksreeks These are the things that sit with us.

Hierdie gesprekke oor erkenning, regstelling en versoening, onder leiding van prof. Pumla Gobodo-Madikizela, word aangebied deur die leerstoel vir historiese trauma en transformasie aan die US, in samewerking met die Toyota US Woordfees.

In hierdie week lange gespreksreeks praat paneellede oor die manier waarop openbare ruimtes en ander vorme van bemiddeling - rolprente, boeke, teater, kuns, die Woordfees self - ons in staat stel om erkenning te gee aan die historiese trauma wat aan ons kleef.

Dié daaglikse gesprekke vind soggens tussen 09:30 en 11:00 van 9 tot 13 en 15 Maart by De Warenmarkt, Ryneveldstraat, Stellenbosch, plaas. Die R30-kaartjie sluit koffie in. Kaartjies beskikbaar by Computicket of by die deur.

Let wel: Dié gesprekke word in Engels gevoer en is op Computicket onder die Engelse gesprekstemas gelaai. Op Computicket en die Woordfees-webwerf is meer inligting oor die sprekers en onderwerpe beskikbaar.

Hier is die gesprekstemas:

9 Maart:Recognising things that sit with us through the arts

10 Maart:Recognition, reparation and reconciliation

11 Maart:The things that sit between us and our children

Boekbespreking: These Are the Things that Sit with Us deur Pumla Gobodo-Madikizela, Friederike Bubenzer, Marietjie Oelofsen.

12 Maart:The Truth and Reconciliation Commission - My Story and Our Story

Met: Lukhanyo Calata en Nadia Lubowksi in gesprek met Max du Preez

13 Maart:Writing the Perpetrator

Boekbespreking: Forgiveness Redefined deur Candice Mama, Bloedbande deur Wilhelm Verwoerd

15 Maart:Love on the border

Rolprentbespreking: Moffie, regie deur Oliver Hermanus. Fliek verniet.

  • By die Woordfees Fliekfees in die Neelsie-studentesentrum se Pulp Cinema kan jy elke dag verniet fliek.
  • Die 14 kortflieks wat by 2019 se kykNET Silwerskermfees vertoon is, wys elkeen drie keer gratis gedurende die Woordfees. Daar is ook drie merkwaardige dokumentêre wat vanjaar verniet vertoon word: Vrou verskans oor 'n 47-jarige treindrywer wat 'n geslagsverandering ondergaan het; die bekroonde Scenes From a Dry City oor die Kaapstadse waterkrisis en Monumental Crossroads oor die stryd wat in die suidelike state van die VSA rondom Burgeroorlog-monumente woed en aansluit by die skrywersgesprek tussen Fred de Vries en Andries Bezuidenhout - Blues vir die wit man.

Bespreek hier.

Visuele kuns

Toegang tot alle uitstallings op die visuele kuns-program is verniet, so ook die daaglikse 90 minuut lange kunsrondleidings deur Theo Kleynhans, wat soggens 09:30 by die Stellenbosch-stadsaal begin. In die stadsaal kan verskeie uitstallings besigtig word.

Bespreek hier.

SPELETJIES VANDAG

CTA