Sake

Amazon gaan nóg 16 000 poste besnoei, lui e-pos wat uitlek

 Amazon het verdere personeelbesnoeiing aangekondig.
Amazon het verdere personeelbesnoeiing aangekondig. (Foto: Getty Images)

Skaars drie maande nadat Amazon aangekondig het hy gaan sy werkmag met 14 000 verminder, het hy Woensdag gesê nóg 16 000 korporatiewe poste gaan wêreldwyd besnoei word.

Baie werknemers moes op sosiale media daarvan lees nadat ’n e-pos verkeerdelik by ’n uitnodiging na ’n vergadering aangeheg is en die nuus soos ’n veldbrand versprei het. Die e-pos verwys blykbaar na die besnoeiing as “Projek Dagbreek”.

Die jongste ronde van personeelvermindering is ’n poging om “lae van burokrasie” te verwyder en eienaarskap te bevorder.

Die maatskappy gaan die geraakte personeel in Amerika 90 dae kans gee om aansoek te doen om ander interne poste of afleggingspakkette te oorweeg, het Beth Galetti, senior visepresident van mensehulpbronne en tegnologie, Woensdag gesê.

“Ons werk daaraan om ons organisasie te versterk deur prosesse te verminder, eienaarskap te verhoog en burokrasie te verwyder,“ sê Galetti.

Sy sê dit “is nie ons plan” om elke paar maande personeelbesnoeiings aan te kondig nie en die maatskappy sal voortgaan om “aanpassings soos nodig te doen”.

Die maatskappy het in Oktober gesê hy gaan 14 000 poste besnoei omdat kunsmatige intelligensie (KI) die maatskappy in staat stel om vinniger en “leniger” te werk.

Nie veel besonderhede is oor die jongste verwikkeling bekend gemaak nie, behalwe om te sê “elke span sal sy eienaarskap, spoed en kapasiteit om innoverend te wees, evalueer en aanpassings doen waar nodig”.

‘Projek Dagbreek’

Werknemers is vroeër Woensdag oor die besnoeiings ingelig, maar eers nadat dit op sosiale media uitgelap is.

Colleen Aubrey, senior visepresident van Amazon, het ’n vergadering getitel “Projek Dagbreek” geskeduleer wat na “geraakte kollegas” in Amerika, Kanada en Costa Rica verwys. Die BBC berig ’n e-posboodskap wat nog nie veronderstel was om gestuur te word nie en waarin daar staan “veranderinge soos hierdie is moeilik vir almal”, is verkeerdelik daarby aangeheg en het vinnig intern en op sosialemediaplatforms soos Reddit versprei.

Elders ook

Microsoft Corp. het ook verlede jaar duisende werkers oortollig verklaar, met die fokus op bestuursposte; Nissan Group in Noord-Amerika het ook 20% van sy topbestuursposte gesny; en Amtrak het sowat 20% van sy eie topbestuurslede geteiken.

Net toe Amazon sy besnoeiings aankondig, het die skyfievervaardiger ASML Holding NV gesê hy gaan sowat 1 700 poste – grootliks bestuursposte – besnoei.

’n Hele paar tegnologiemaatskappye het begin vanjaar besnoeiings aangekondig.

Meta Platforms Inc. sê hy gaan meer as 1 000 poste uit sy Reality Labs-afdeling sny en die hulpbronne na KI herlei.

Pinterest Inc. het Dinsdag gesê hy beplan om “minder as 15%” van sy werkmag te besnoei en sal kantoorspasie verminder, ook in ’n poging om hulpbronne na KI te skuif.

Autodesk Inc. sê hy gaan sowat 1 000 poste sny.

Amazon het op 30 September sowat 1,57 miljoen werknemers in sy diens gehad, van wie die meeste in pakhuise werk. Sy korporatiewe werkmag bestaan uit sowat 350 000 personeellede, wat beteken die jongste besnoeiings verteenwoordig sowat 4,6% van dié werkmag.

Amazon maak sy voljaarresultate in Februarie bekend. – Bloomberg