16 dae om te skaaf aan Begroting 2.0

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Enoch Godongwana, minister van finansies. Foto: Jaco Marais
Enoch Godongwana, minister van finansies. Foto: Jaco Marais

Die volgende 16 dae is deurslaggewend vir die nasionale begroting wat Enoch Godongwana, minister van finansies, Woensdag ná 'n tweede probeerslag in die parlement ter tafel gelê het.

Suid-Afrika sit die heel eerste keer met 'n regering van nasionale eenheid (RNE) waarin die ANC nie 'n volstrekte meerderheid het nie en dus nie net sy rubberstempel kan gebruik om die begroting in die parlement goed te keur nie.

So waar laat dit die begroting?

Die DA is die tweede grootste vennoot in die RNE.

Die party se teenkanting teen Godongwana se plan om belasting op toegevoegde waarde (BTW) met 2 persentasiepunte te verhoog, het sy eerste begrotingsrede drie weke gelede in sy spore gestuit.

Godongwana se gewysigde begroting, wat 'n verhoging van 0,5 persentasiepunt in BTW in elk van die volgende twee boekjare insluit, is ook reeds deur die DA verwerp.

Die ANC het 40,52% van die steun in die Nasionale Vergadering (NV), wat beteken die party benodig die steun van ander partye om die begroting goed te keur.

Die DA het 22,21% van die steun in die NV, gevolg deur die MKP (14,63%), die EFF (9,86%), die IVP (4,17%), die PA (2,16%), die VF Plus (1,45%), ActionSA (1,31%), die ACDP (0,6%), die UDM (0,52%), Rise Mzansi (0,44%), Bosa (0,43%), ATM (0,41%), Al Jama-ah (0,29%), die NCC (0,27%), die PAC (0,24%), UAT (0,21%) en Good (0,21%).

Die meeste ander politieke partye - die MKP, die EFF, die VF Plus en ActionSA - is ook gekant teen 'n BTW-verhoging.

Die IVP en die PA het laat blyk hulle ondersteun die huidige formaat van die begroting, maar selfs met hul steun sal die ANC steeds nie 50% hê om die begroting deur te voer nie.

Wat is die volgende stap in die proses?

Die wetgewende proses begin wanneer die minister van finansies die pakket van drie begrotingswetsontwerpe in die NV ter tafel lê.

Wetsontwerp op die Verdeling van Inkomste

Dit sit uiteen hoe geld in die boekjaar gelyk verdeel sal word onder die regeringsfere en die nege provinsies.

Wetsontwerp op Toedeling

Geld word hierin uiteengesit vir die nasionale regering en dit dui aan hoe dit in die boekjaar verdeel sal word onder nasionale departemente en staatsinstellings.

Wysigingswetsontwerp op Inkomstebelastingwette

Dit wysig die onderskeie belastingwette om seker te maak die regering kan die geld vind om in die boekjaar te bestee.

Godongwana het dié stap Woensdag ná sy begrotingsrede in die NV uitgevoer.

16 dae

Kragtens die Wet op die Prosedure vir Wysigings aan Geldwetsontwerpe en Verwante Sake moet die NV en die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) die fiskale raamwerk en die inkomstevoorstelle na hul onderskeie komitees van finansies verwys.

Dié komitees moet gesamentlike openbare vergaderings oor die fiskale raamwerk en inkomstevoorstelle hou. Hulle moet binne 16 dae nadat die nasionale begroting ter tafel gelê is, 'n verslag by die NV en die NRP indien oor dié twee aspekte.

Dié verslag moet 'n duidelike verklaring insluit oor of die fiskale raamwerk en inkomstevoorstelle aanvaar of gewysig sal word.

As die verslag wysigings aan dié aspekte insluit, moet die minister minstens twee dae gegun word om op die verslag en enige voorgestelde wysigings te reageer voordat dit aan die NV en die NRP voorgelê word. Die verslae moet die reaksie van die minister insluit.

Die twee dae wat die minister kry, is ingesluit by die 16-dae-spertyd vir die NV en die NRP om die verslae deur resolusie te oorweeg vir aanvaarding.

35 dae daarna

Ná die aanvaarding van die fiskale raamwerk moet die Wetsontwerp op die Verdeling van Inkomste na die begrotingskomitees van die NV en die NRP verwys word vir oorweging en 'n verslag.

Dié wetsontwerp moet binne 35 dae ná die aanvaarding van die fiskale raamwerk deur die parlement goedgekeur word. Enige wysiging aan dié wetsontwerp moet konsekwent wees met die aanvaarde fiskale raamwerk.

Die parlement aanvaar tipies die begroting en al sy wette vier maande ná die begin van die boekjaar.

- philda.essop@24.com

SPELETJIES VANDAG

CTA