Die regering is steeds van plan om 'n permanente basiese inkomstetoelae vir werkloses in te stel.
So het Maropene Ramokgopa, minister van beplanning, monitering en evaluering, Vrydag bevestig in 'n inligtingsessie oor die regering se mediumtermynontwikkelingsplan vir 2024 tot 2029.
Ramokgopa het in antwoord op 'n vraag daaroor gesê dit is een van die regering se planne. Die beleidsaspekte en die toepassing daarvan sal deur die departement van maatskaplike ontwikkeling gedryf word. Hulle is reeds besig om daaraan te werk.
Dit kom 'n dag nadat pres. Cyril Ramaphosa in sy staatsrede die maatskaplike noodlenigingstoelae (SRD), oftewel die sogenaamde Covid-19-toelae, as 'n noodsaaklike meganisme bestempel het vir die verligting van uiterste armoede.
Ons sal die toelae gebruik as 'n grondslag vir die bekendstelling van 'n volhoubare vorm van inkomste-ondersteuning vir werklose mense.
— Pres. Cyril Ramaphosa
Die toelae is in 2020 ingestel en daarna herhaaldelik verleng, met Maart 2025 tans die afsnydatum tensy dit in die nasionale begrotingsrede op 19 Februarie weer verleng word.
Dit beloop tans R370 per maand.
"Ons sal die toelae gebruik as 'n grondslag vir die bekendstelling van 'n volhoubare vorm van inkomste-ondersteuning vir werklose mense," het Ramaphosa in die staatsrede gesê.
Die SRD-toelaag verteenwoordig altesame 13% van die staat se algehele besteding aan toelaes asook 33% van die aantal begunstigdes in die land wat toelaes ontvang.
Verskeie politieke partye beskou die toelae sedert die instelling daarvan as die grondslag vir 'n permanente basiese inkomstetoelae.
Die tesourie was in Oktober met die middeltermynbegrotingsraamwerk (MTBR) huiwerig om enige eksplisiete verbintenis of voorneme oor die toekoms van die SDR-toelae uit te spreek.
Die MTBR het ook soos voorheen gepoog om geen verwagtinge te skep nie.
" 'n Volhoubare fiskale benadering vereis dat enige permanente toevoeging tot besteding gefinansier moet word deur permanente inkomstebronne of die herprioritisering van binne die fiskale raamwerk."
Verder het dit daarop gewys dat 'n wye reeks van finansiële ondersteuning reeds beskikbaar is vir werklose mense.
- philda.essop@24.com





















