Te midde van verwarring oor die nasionale begrotingsproses in die parlement stel die EFF voor dat die hele proses van nuuts af begin.
Op sy allerminste moet die parlement geen besluit neem voor die verwagte hofuitspraak volgende week nie.
Die EFF dring hierop aan in 'n brief aan Thoko Didiza, speaker van die Nasionale Vergadering.
Dit kom nadat Enoch Godongwana, minister van finansies, 'n wetsontwerp in die parlement ter tafel gelê het wat die omstrede halwepersentasiepuntverhoging in belasting op toegevoegde waarde (BTW) skrap.
Godongwana het Donderdagmiddag die Wetsontwerp oor Belastingkoerse en Wysigings van Inkomstewette van 2025 in die Staatskoerant gepubliseer en later in die parlement ter tafel gelê.
Dít nadat hy Woensdag kort voor middernag die skrapping van die BTW-verhoging wat hy in sy begrotingsrede van 12 Maart aangekondig het, bekend gemaak het.
Onduidelikheid duur egter nog voort oor of dit noodsaaklik is vir Godongwana om 'n splinternuwe begroting op te stel aangesien die BTW-styging in die fiskale raamwerk en inkomstevoorstelle vervat is wat op 2 April deur die parlement goedgekeur is.
Talle regskenners is ook van mening 'n nuwe fiskale raamwerk moet ingedien word. Banke, winkels, selfoonmaatskappye en ander diensverskaffers het egter reeds aangedui dat hulle, selfs ondanks die wetlike vrae, die BTW-verhoging op hul stelsels omswaai.
Die Wes-Kaapse hooggeregshof gaan teen 29 April uitspraak lewer in die aansoek van die DA en die EFF om die BTW-styging ongeldig te verklaar. Daar is ook sprake dat 'n skikking tussen die partye en die regering beding is, maar dit sal ook deur die hof bekragtig moet word.
Begin die parlementêre proses oor
Die EFF glo die hele begrotingsproses moet van voor af begin.
Die party waarsku Didiza oor die parlement se voortgesette deelname aan 'n begrotingsproses wat "deurspek is met prosedurele defekte, grondwetlike teenstrydighede en nou die ineenstorting van die fiskale grondslag", wat die risiko skep dat die uitkomste daarvan onwettig kan wees.
Die party het ook sy oproep herhaal vir 'n vergadering met alle politieke partyleiers om die "ontvouende krisis" te bespreek en om 'n "kollektiewe, ingeligte roete" vorentoe te verseker.
Godongwana se kansellering van die BTW-verhoging - wat gedreig het om die regering van nasionale eenheid te skeur - is oor die hele politieke spektrum heen, vakbonde en burgerlike organisasies inkluis, verwelkom.
Geen ander verandering
Die wetsontwerp wat Donderdag ingedien is, verskil slegs wat betref BTW van die een van 12 Maart.
Drempels en kerwe vir persoonlike inkomstebelasting, die "sondebelastings" en die koolstofbelasting bly onveranderd.
Intussen het die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) sy vraag-antwoord-dokument oor die voorgenome verhoging van BTW geargiveer, maar geen nuwe dokument daaroor uitgereik nie.
Onder die hofie "Wat is nuut?" is die jongste inligting wel vervat: "Die minister van finansies het die Wetsontwerp oor Belastingkoerse en Wysigings van Inkomstewette bekend gestel, wat voorstel dat die BTW koers op 15% behou word vanaf 1 Mei 2025, in plaas van die voorgestelde styging in BTW wat in Maart in die begroting aangekondig is."
Die tesourie self het nog glad nie op navrae gereageer oor hoe die proses vorentoe gaan verloop nie.
- philda.essop@24.com






















