Begroting

DA wil dié 3 belastings die deur wys

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Belasting op suiker en suikerprodukte gaan waarskynlik toeneem. Foto: Unsplash
Belasting op suiker en suikerprodukte gaan waarskynlik toeneem. Foto: Unsplash

Met die tesourie wat onlangs belanghebbendes genooi het om belastingvoorstelle in te dien in aanloop tot Februarie se begroting, word hy nou toegegooi met verskeie voorstelle.

Die DA het pas sy voorstelle herhaal dat die gesondheidsbevorderingsheffing (suikerbelasting) geskrap moet word, die brandstofprysstruktuur hersien moet word, en dat die mandjie goedere wat van BTW vrygestel word, uitgebrei moet word.

Terwyl die tesourie reeds teen dié tyd al begin skryf het aan Februarie se begrotingsdokumente, kan die DA se voorstelle op koppestampery uitloop aangesien daar wyduiteenlopende sienings is oor die voorstelle.

Nog items van BTW vrygestel?

Die DA het as deel van sy verkiesingsmanifes vir vanjaar se nasionale verkiesing al voorgestel dat die lys kosprodukte waarop daar nie BTW gehef word nie, uitgebrei moet word na hoendervleis, geblikte boontjies, beesvleis, margarien, grondboontjiebotter, babakos, tee, koffie, soppoeier en koringmeel.

Die tesourie het egter self onlangs in 'n skriftelike antwoord op 'n parlementêre vraag gesê BTW-vrygestelde kosprodukte is nie eintlik sy voorkeurmanier om verligting aan armes te bied nie, want hy het steeds geen beheer oor die basiese pryse van dié produkte nie.

Daar is reeds 21 items wat van BTW vrygestel word, en 'n paneel van onafhanklike kundiges het aanvanklik voorgestel dat witbrood, babadoeke en skooluniforms ook van BTW vrygestel moet word.

Die tesourie sê dit sal die staatskas R4 miljard per jaar aan verlore inkomste kos.

Ná persoonlike inkomstebelasting is BTW die enkele grootste inkomstebron vir die staat, met 'n verwagte R463 miljard wat in die lopende boekjaar ingevorder sal word. Die bydrae daarvan tot die totale belastinginkomste is op 26% geraam.

Suikerbelasting

Die DA wil hê die suikerbelasting moet heeltemal geskrap word. Die party voer aan daar is nie bewyse dat dit al gehelp het om diabetes en vetsug te verminder nie, maar daar is wel bewyse dat dit die suikerbedryf knou en tot werkverliese gelei het.

Hiermee sal die DA sterk steun kry van die suikerbedryf en suikerrietboere, wat kla dat die vraag na suiker skerp gedaal het sedert die belasting in 2018 ingestel is.

In 2020 het 'n studie in opdrag van die nasionale ekonomiese ontwikkelings- en arbeidsraad (Nedlac) gewys 16 000 poste in die suiker- en koeldrankbedryf het toe al verlore gegaan. Daar is ook meer as 9 700 werkgeleenthede verlore onder suikerrietboere. Die vraag na suiker het volgens die Suid-Afrikaanse Suikervereniging met 250 000 ton gedaal weens die suikerbelasting.

Die organisasie Healthy Living Alliance voer op sy beurt aan die suikerbelasting behoort eerder verhoog te word en dat suikerriet eerder vir die vervaardiging van etanol gebruik moet word as vir suiker.

Die suikerbelasting sou volgens verlede Februarie se verwagtinge vanjaar R2,3 miljard invorder. Die bydrae daarvan tot die totale belastinginkomste is maar 0,1%.

Brandstofheffing

Die DA vra ook weer vir 'n dringende hersiening van die brandstofprysstruktuur, hoewel die regering reeds aangekondig het hy is juis besig met so 'n hersiening.

Die DA meen die brandstofheffing verhoog vervoerkoste in veral die logistieke bedryf, wat tot groter koste vir klein ondernemings in vervoer- afhanklike sektore soos die landbou en afleweringsdienste lei.

Die groter insetkoste word uiteindelik na verbruikers deurgegee via prysverhogings, wat die lewenskoste vir alle Suid-Afrikaners laat opskiet.

Maar die Automobiel-Assosiasie (AA) het onlangs gewaarsku hulle is bekommerd dat 'n drastiese skerp verlaging of afskaffing van die brandstofheffing bloot die regering sal dwing om belastinginkomste van elders in te vorder.

Die brandstofheffing sal na verwagting in die lopende boekjaar R82 miljard invorder en in die komende boekjaar R96 miljard. Die bydrae daarvan tot die totale belastinginkomste is in Februarie op 5,3% geraam.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM