Begroting

Die 7 belangrikste dinge om van die MTBR te weet

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Van links is David Masondo, adjunkminister van finansies, Enoch Godongwana, minister van finansies, en Ashor Sarupen, adjunkminister van finansies, Woensdag op ’n mediakonferensie voor die mediumtermynbegrotingsrede.  Foto: Jaco Marais
Van links is David Masondo, adjunkminister van finansies, Enoch Godongwana, minister van finansies, en Ashor Sarupen, adjunkminister van finansies, Woensdag op ’n mediakonferensie voor die mediumtermynbegrotingsrede. Foto: Jaco Marais

As jy tyd het vir niks anders nie is dié sewe hooftrekke uit die mediumtermynbegrotingsraamwerk (MBTR) die belangrikste om van kennis te neem.

• Fiskale anker

Die regering beoog 'n fiskale anker om seker te maak staatskuld bly volhoubaar. Die tesourie werk aan tegniese aspekte en hou konsultasies om voorstelle te formuleer oor hoe begrotings só saamgestel kan word dat dit nie tot wegholskuld lei nie.

Die vordering daarmee sal in Februarie se begroting bespreek word. Die mikpunt om 'n primêre begrotingsoorskot te handhaaf sal in die komende drie jaar as fiskale anker dien.

Die hele manier waarop die MTBR opgestel word, gaan hersien word om dit in pas te bring met die jongste ekonomiese werklikhede. Die voorgestelde hervormings sal in die komende boekjaar in werking gestel word.

• Vaardigheidsheffing

Die regering gaan die vaardigheidsheffing wat werkgewers moet betaal, omvattend hersien. Die heffing het oor die afgelope drie jaar R20,9 miljard ingevorder. Voorstelle hieroor sal in Februarie se begroting kom. Al die werkskeppingsinisiatiewe van die regering gaan hersien word. Die eerste fase van die omvattende hersiening sal teen Maart volgende jaar voltooi wees.

• Staatskuld

Staatskuld as persentasie van die BBP sal in die volgende boekjaar by 75,5% draai, belowe die tesourie. Staatskuld as persentasie van totale staatsinkomste sal dan by 21,7% draai en daarna afneem. Waar rente op skuld voorheen die snelgroeiendste item van besteding was, wys die tesourie se syfers dat besteding aan ekonomiese ontwikkeling op mediumtermyn die snelste sal groei teen 7,8%.

• Sensusprobleme

'n Groot blaps en verleentheid vir die regering is die probleme met die uitreiking van 2022 se sensusdata. Dit het beteken die tesourie het nog nie toegang tot die inligting wat nodig is om sy formules vir provinsiale en munisipale toekennings te bereken vir die 2025-'26-boekjaar nie. Die formules gebruik nou nog verouderde data van die inkomste- en bestedingspeiling van 2010-'11 en weerspieël dus nie veranderings in armoedevlakke nie.

Dis veral die toekennings aan plaaslike regerings wat hierdeur geraak word. Statistieke Suid-Afrika verwag die data sal teen Desember beskikbaar wees.

• Munisipaliteite se skuld aan Eskom

Die tesourie waarsku daar is trae voldoening van deelnemende munisipaliteite aan die skuldafskrywingsprogram vir hul Eskom-skuld. Voldoening het van Maart tot Augustus maar net van 55% tot 76% verbeter. Slegs die Rand West City-munisipaliteit het al een derde van sy Eskom-skuld afgeskryf gekry danksy die voldoening aan die voorwaardes vir 12 maande. Die 14 munisipaliteite met die meeste skuld aan Eskom is steeds in 'n kritieke geldknyp en alternatiewe oplossings is nodig.

• Infrastruktuur

Sterk klem is in die MTBR op groter en meer innoverende besteding aan infrastruktuur geplaas, met die regering se suksesvolle groenkragprogram as model. Die tesourie gaan ook bilaterale lenings, konsessiefinansiering en infrastruktuur-effekte gebruik om groot infrastruktuurprojekte te finansier. Groter samewerking met die private sektor word beoog, ook om die krisis met watervoorsiening te pak. Die private sektor sal kan deelneem via prestasiegebaseerde kontrakte en openbare-private-vennootskappe om die nuwe Watervennootskapskantoor van die departement van water en sanitasie te help om lekkasies by waterinfrastruktuur te herstel en te voorkom. Dit sal die verlies aan inkomste weens lekkasies hokslaan. Die hergebruik van herwonne afvalwater vir ander gebruike is deel hiervan.

• Salarisrekening

Die staat se salarisrekening word as die grootste bestedingsdruk vir die regering beskou. Die onsekerheid oor die uitslag van loononderhandelinge vir staatsamptenare vir 2025-'26 hou 'n groot risiko in vir fiskale projeksies op mediumtermyn, waarsku die tesourie. Daarom is R11 miljard vir drie jaar begroot vir vroeë-aftrede-pakkette.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM