'n Bykomende R5 miljard sal op mediumtermyn bewillig word om die ontplooiing van Suid-Afrikaanse soldate vir vredesendings in die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK) te finansier.
Enoch Godongwana, minister van finansies, het Woensdag ook aangekondig dat die begroting vir die veiligheidsgroepering op mediumtermyn jaarliks met 4,7% sal groei van R250,4 miljard in 2024-'25 tot R287 miljard in 2027-'28. Dit is effens minder as die R288,8 miljard wat in die verwerpte begroting van Februarie bewillig was.
"Hierdie styging is hoofsaaklik om die ontplooiing van soldate van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) in die DRK te finansier, om die kapasiteit in die regbank te verbeter en om vir die plaaslike verkiesing van volgende jaar voor te berei," sê Godongwana.
Die meer geld vir die DRK-vredesendings volg kort ná groot openbare verontwaardiging weens die dood van 14 SANW-soldate in die DRK. Sommige opposisiepartye eis steeds dat alle Suid-Afrikaanse soldate onmiddellik uit die DRK onttrek word, veral ná gerugte dat hulle daar nie voldoende gefinansier is nie en swak toegerus is.
"R5 miljard is vir die volgende drie jaar aan die departement van verdediging toegeken om Suid-Afrika se deelname in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) se vredesending in die DRK te ondersteun en om bestaande vredesendingsaktiwiteite aan te vul," sê Godongwana.
R266,1 miljard is in totaal vir die huidige boekjaar vir die hele veiligheidsektor bewillig.
Hiervan kry die polisie R133,4 miljard, die weermag en staatsveiligheid R60,8 miljard, howe en tronke R58,1 miljard en binnelandse sake R13,9 miljard.
Godongwana sê verder R821,2 miljoen sal ook op mediumtermyn aan die Kantoor van die Hoofregter toegeken word, wat onder meer moet help met 'n aanlyn hofstelsel en om toegang tot geregtigheid te verbeter.
In totaal sal R1,4 miljard ook vir volgende jaar se plaaslike verkiesing toegeken word.
"Hiervan sal R885 miljoen aan die Verkiesingskommissie toegeken word om die verkiesingsproses te bestuur en daaroor toesig te hou. 'n Bykomende R400 miljoen sal aan die polisie gaan om reg en orde gedurende die verkiesingstydperk te handhaaf. R150 miljoen gaan aan die departement van verdediging vir logistieke en veiligheidsondersteuning vir dieselfde tydperk."
Om grensveiligheid te versterk en grensposte te verbeter, sal R909 miljoen volgens Godongwana ook oor die volgende drie jaar aan die departement van openbare werke en die Grensbestuurowerheid van die departement van binnelandse sake hertoegeken word om die bestuur van infrastruktuur by grensposte te verbeter.
Die departement van binnelandse sake word vanjaar ook 'n bykomende R1,4 miljard toegeken vir sy digitaliseringsprojek en om meer personeel aan te stel. Dit is byna die helfte minder as die R3 miljard wat in die verwerpte begroting was.
• Die DA het aangedui dat hy enige belastingverhoging gaan teenstaan. Die parlement moet nog die begroting goedkeur. Dit is dus in dié stadium alles voorstelle.
- llewellyn.prince@24.com

















