Begroting

Nee vir BTW-verhoging: Só lyk ander voorstelle

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Cosatu vra dat gemeenskapsgesondheidswerkers sonder verwyl heeltyds in die departement van gesondheid aangestel word. Foto: Gallo Images
Cosatu vra dat gemeenskapsgesondheidswerkers sonder verwyl heeltyds in die departement van gesondheid aangestel word. Foto: Gallo Images

Gee vir die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) meer geld om belastinginvordering te verbeter, verklein die regering drasties en verhoog maatskappybelasting weer tot 28%.

Dis onder die alternatiewe wat voorgestel word vir die verhoging in belasting op toegevoegde waarde (BTW) van 15% tot 17%, die plan wat Woensdag heftige teenkanting in die regering van nasionale eenheid (RNE) ontlok het.

Dit het meegebring dat die nasionale begroting vir die boekjaar wat in April begin in sy spore gestuit is. Dit word nou eers in die kabinet bespreek en dan op 12 Maart weer ingedien.

Cosatu glo 'n styging in BTW sou 'n onhoudbare las op werkersklasgesinne plaas wat reeds diep in die skuld is en sukkel om kop bo water te hou met die stygende lewenskoste.

Die vakverbond meen sy en ander se ingrypings het 'n stokkie gesteek voor die "regressiewe" styging in BTW.

Cosatu glo dis beter dat die regering broodnodige verootmoediging ondervind en terugkeer na die tekenbord eerder as om 'n begroting deur te jaag wat nie net deur die parlement verwerp sou word nie, maar ook "potensieel 'n grondwetlike krisis en onnodige politieke bohaai" sou veroorsaak.

Alternatiewe wat Cosatu vir 'n styging in BTW voorgestel het, sluit in om onmiddellik 'n bykomende R3 miljard aan die SAID toe te ken om belastinginvordering van 64% tot 67% op te stoot, waardeur Cosatu glo R60 miljard meer se belastinginkomste ingevorder kan word.

Interessant genoeg sou 'n bykomende R2,5 miljard wel in die verwerpte begroting aan die SAID toegeken word.

Edward Kieswetter, kommissaris van die SAID, het ook onlangs gesê dis beter om die SAID se vermoë om belasting in te vorder, te verbeter, eerder as om belasting te verhoog. Hy het vroeër gesê daar is 'n geraamde R800 miljard se jaarlikse belasting wat nie van individue en maatskappye ingevorder word nie.

LEES OOK | Oepsie! Hele land hoor Godongwana is ‘kwaad' vir Kieswetter

Gesprekke moet volgens Cosatu ook gevoer word met openbare en private finansiële instellings vir groter verantwoordelikheid ten opsigte van die finansiering van infrastruktuur, klein, mikro- en mediumgrootte ondernemings, industrialisering, uitvoer en werkskepping.

Verklein die regering

Ook die Vryemarkstigting het alternatiewe vir 'n styging in BTW voorgestel. David Ansara, uitvoerende hoof, het daarop gewys dat enige bykomende belasting 'n "verpletterende las op 'n reeds brose belastingbasis" sal plaas, wat die koopkrag van alle Suid-Afrikaners sal wegkalwe.

"In plaas daarvan om belasting of lenings te verhoog, moet die minister daarop fokus om die grootte en omvang van die regering radikaal te verklein."

Die land is volgens Ansara besig om na die fiskale afgrond te "slaapwandel".

"Die vertraging behoort 'n wekroep vir die regering te wees om sy finansies in orde te kry. Eerder as om belasting te verhoog, behoort die regering binne sy vermoë te leef en aggressief aan die besteding aan die openbare sektor te besnoei."

Verhoog maatskappybelasting

Nehawu het op sy beurt 'n beroep op die tesourie gedoen om die vlak van maatskappybelasting weer terug te neem na 28%, belasting op kapitaalwins te verhoog en 'n welvaartbelasting in te stel.

Godongwana het egter Woensdag op 'n mediakonferensie gesê maatskappybelasting is 'n belasting op wins en maatskappye se wins is wisselvallig, soos gesien is toe die belasting uit mynboumaatskappye getuimel het ná die ineenstorting van sekere hulpbronpryse verlede jaar.

- philda.essop@24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM