Die finale jawoord of doodsteek vir vanjaar se hoogs bestrede begroting kom op Woensdag 23 Julie in die parlement ter sprake.
Die Nasionale Vergadering (NV) moet dan besluit of hy die staande komitee oor toedelings se verslag oor die toedelingswetsontwerp aanvaar of nie, en daarmee saam die toedelingswetsontwerp self.
Thoko Didiza, speaker van die NV, het Donderdag in die parlement se programkomitee gesê verdere regsduidelikheid oor hoe om die situasie te hanteer, sal indien nodig bekom word en voor Woensdag aan die komiteelede oorgedra word.
Te midde van die onderlinge verskille onder die partye in die regering van nasionale eenheid (RNE) is vanjaar se begrotingsproses deur ongekende haakplekke en vertragings gekenmerk. Dit het begin met die mislukte begroting van Februarie toe die voorgestelde verhoging in BTW tot 17% nie vir politieke partye aanvaarbaar was nie. Die tweede poging tot 'n begroting op 12 Maart het ook nie die mas opgekom nie, en dit was eers met 21 Mei se begroting dat die RNE dit goedgekeur het.
Die fiskale raamwerk vir vanjaar se begroting, asook die Wetsontwerp oor die Verdeling van Inkomste, is sedertdien goedgekeur. Woensdag moet die NV oor die toedelingswetsontwerp besluit, en dan moet die Nasionale Raad van Provinsies ook nog deur sy eie prosesse gaan, met 31 Julie as spertyd.

Van waar die nuwe onsekerheid?
Maar die onlangse voorval waar pres. Cyril Ramaphosa vir Andrew Whitfield van die DA as adjunkminister van handel, nywerheid en mededinging afgedank het omdat hy sonder presidentstoestemming oorsee gevlieg het, het nuwe onmin veroorsaak.
Die DA het bekend gemaak hy gaan in reaksie op Ramaphosa se traagheid om teen kabinetsministers op te tree teen wie bewerings van korrupsie en wanbestuur gemaak is, nie vir die begrotingsposte van dié ministers stem nie.
Die regsafdeling van die parlement het Donderdag verduidelik die toedelingswetsontwerp sal Woensdag 'n eerste lesing kry en dan sal daar 'n debat wees.
As die eerste lesing goedgekeur word, sal die NV een vir een deur al die begrotingsposte moet gaan.
As enige van die begrotings nie goedgekeur word nie, kan die wetsontwerp terugverwys word na die staande komitee oor toedelings vir hersiening.
As die wetgewing egter by die tweede lesing verwerp word, kan dit nie terugverwys word nie en moet 'n nuwe wetsontwerp ter tafel gelê word.

Wat van nuwe verkiesing?
Visvin Reddy, MK-LP, het gemeen 'n nuwe verkiesing behoort eerder gehou te word as die NV steeds nie Woensdag die begroting kan goedkeur nie. Volgens hom is daar reeds weer 'n spul onderlinge gesprekke en posisionering onder partye in die RNE om te probeer kry wat hulle wil hê.
Adv. Frank Jenkins van die parlement se regsafdeling het egter gesê die konsep van 'n geïmpliseerde wantroue in die regering as 'n begroting nie goedgekeur kan word nie, is nie in Suid-Afrika van toepassing nie.
Die Grondwet bepaal volgens hom dat 'n nuwe verkiesing slegs gehou kan word as die huidige parlement se termyn tot 'n einde kom, of as die NV besluit om homself te ontbind, maar dan eers drie jaar ná die vorige verkiesing.
Mdumiseni Ntuli, hoofsweep van die ANC, sê die MKP stem teen alles, en "ons weet waar die DA staan". Volgens hom kan die staande komitee oor toedelings niks aan die politieke verskille doen nie, maar kan slegs aan die finansiële en tegniese aspekte van die begroting werk.
Masibulele Xaso, sekretaris van die NV, het aan die komitee voorgestel dat die begrotingsposte waaroor daar instemming is, Woensdag eerste gedebatteer word, en dat die begrotingsposte waaroor daar skerp verskille is, vir laaste gelos word.
Wat is die toedelingswetsontwerp?
Die Wetsontwerp oor die Verdeling van Inkomste, wat reeds goedgekeur is, is die wetgewing wat die verdeling van die staatsinkomste tussen die nasionale, provinsiale en plaaslike regeringsvlakke bepaal. Die toedelingswetsontwerp bepaal op sy beurt die besteding van staatsgeld deur nasionale staatsdepartemente en hul onderskeie entiteite.
Die spertyd vir die goedkeuring van die toedelingswetsontwerp is 31 Julie, oftewel vier maande ná die begin van die staat se boekjaar op 1 April.
Jenkins het bevestig dat 45% van die vorige jaar se begroting bestee kan word as die toedelingswetsontwerp vir die lopende boekjaar nog nie goedgekeur is nie. Daarna mag net 10% per maand van die vorige jaar se begroting bestee word, en geen geld mag aan nuwe programme bestee word nie.













