Begroting

‘Poskantoor bly geldelik gestres’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die Poskantoor kan mense help om vir nuwe Sassa-kaarte aansoek te doen.
Die Poskantoor kan mense help om vir nuwe Sassa-kaarte aansoek te doen.

Die Suid-Afrikaanse Poskantoor bly finansieel onder druk weens hoë netto verliese en lae inkomste.

Die instelling wat in Julie 2023 in sakeredding geplaas is, het in die 2023-'24-boekjaar koste verminder en sommige bedryfsteikens bereik, maar bly geldelik gestres, lui die dokumente wat Woensdag saam met die nasionale begroting gepubliseer is.

Die Poskantoor het die R2,4 miljard wat in die 2022-'23-boekjaar aan hom toegeken is, gebruik om 'n sakereddingsplan in werking te stel wat die besnoeiing van koste en die betaal van krediteure ingesluit het.

As deel van die plan is 354 takke gesluit en 657 takke oopgehou. Die nasionale tesourie en die departement van kommunikasie en digitale tegnologie werk saam met die sakeredders om die doeltreffende toepassing van die plan te verseker.

Poskantoor kry R1,8 miljard

'n Bedrag van R7,8 miljard is op mediumtermyn begroot vir die departement van kommunikasie en digitale tegnologie, waarvan R1,8 miljard aan die Poskantoor toegeken is vir sy verpligtinge om posdienste in ongedienste gebiede te verskaf.

Die entiteit sal op mediumtermyn daarop fokus om universele toegang tot pos en verwante dienste te verskaf. Daar sal 'n strategiese fokus wees op koerier-, pos- en finansiële dienste, asook e-handel, wat vennootskappe met kleinhandelaars en logistieke maatskappye insluit deur dienste deur aanlyn platforms aan hulle te verskaf.

Anoosh Rooplal en Juanito Damons, sakereddingspraktisyns, het tot dusver volgehou die sukses van die sakereddingsproses bly afhanklik van die R3,8 miljard-kontantinspuiting van die fiskus. Dit is sodat die sakereddingsproses afgehandel en die bedrywighede teruggegee kan word aan die bestuurspan.

‘Finansiële situasie sal na verwagting verbeter'

Die Poskantoor se finansiële situasie sal na verwagting op mediumtermyn verbeter met verliese van R701,1 miljoen in die 2024-'25-boekjaar wat geprojekteer word om te verbeter tot 'n wins van R570,9 miljoen in die 2027-'28-boekjaar, lui die begrotingsdokumente. Dis terwyl die sakereddingsplan toegepas word deur middel van programme wat daarop gemik is om finansiële prestasie te verbeter.

Besteding sal na verwagting met 0,1% verhoog in die tydperk vorentoe tot R4,5 miljard in die 2027-'28-boekjaar met die vergoeding van personeel wat geprojekteer word om die grootste deel van die besteding te vorm, gevolg deur vervoer, inligtingstegnologie (IT) en eiendomskoste. Die entiteit skep inkomste deur die verskaffing van pos- en koerierdienste en deur middel van tariewe vir die verskaffing van finansiële dienste. Inkomste sal na verwagting styg teen 'n gemiddelde jaarlikse koers van 10,2%, van R3,8 miljard in 2024-'25 tot R5,1 miljard in 2027-'28, wat handelsinkomste, universele diensverpligtinge en inkomste uit rente beslaan.

• Die DA het aangedui dat hy enige belastingverhoging gaan teenstaan. Die parlement moet nog die begroting goedkeur. Dit is dus in dié stadium alles voorstelle.

- philda.essop@24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM