Daar is planne om die finansieringsmodel te verfyn van munisipaliteite wat finansieel sukkel en om alternatiewe inkomstebronne vir hulle te ondersoek, het Enoch Godongwana, minister van finansies, Woensdag in sy toespraak oor die mediumtermynbegrotingsraamwerk gesê.
"Ongelukkig ondervind talle munisipaliteite ernstige uitdagings met hul bestuur, beplanning en finansiële bestuur."
Soos sake staan, het 50 van die 257 munisipaliteite in die land aktiewe finansiële herstelplanne.
Godongwana meen dié situasie is onhoudbaar.
"En die werklikheid is dat die nasionale regering nie tegelyk by alle munisipaliteite kan ingryp nie. Om mislukkings in plaaslike regering sistematies op te los, word verskeie inisiatiewe onderneem. Eskom se skuldverligtingsprogram is een van hierdie ingrypings."
Volgens hom skuld munisipaliteite hul krediteure gesamentlik R116,5 miljard, met 75% van hierdie skuld wat meer as 90 dae agterstallig is.
"In 2023-'24 is munisipaliteite self R339,9 miljard geskuld, waarvan R294,1 miljard skuld van ouer as 90 dae was. Huishoudings is verantwoordelik vir 73% van hierdie skuld en ondernemings vir sowat 20%."
Godongwana sê die regering se langtermynstrategie vir munisipaliteite se volhoubaarheid is om hul invorderingskoers en kredietbestuur te verbeter.
Volgens hom sluit die regering se aksieplan vir vyf jaar daarom in om die finansieringsmodel vir plaaslike regerings teen Maart 2027 te verfyn, sowel as om alternatiewe munisipale inkomstebronne te ondersoek.





















