Begroting

Só wil SAID hemelhoë belastingteiken haal

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Edward Kieswetter (links in blou pak) kom by die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum aan vir die Mei-begrotingsrede saam met van links Ashor Sarupen, adjunkminister van finansies, Enoch Godongwana, minister van finansies, en dr. David Masond
Edward Kieswetter (links in blou pak) kom by die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum aan vir die Mei-begrotingsrede saam met van links Ashor Sarupen, adjunkminister van finansies, Enoch Godongwana, minister van finansies, en dr. David Masond

Die mikpunt om R1 986 miljard se belasting in die lopende boekjaar in te vorder, is 'n uitdagende een, sê die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID).

Maar dit is die teiken wat Enoch Godongwana, minister van finansies, wil hê die SAID moet jaag.

Dit gaan moeilik wees gegewe die huidige taai binnelandse en internasionale ekonomiese toestande, sê die SAID in 'n verklaring nadat die derde begrotingsoorsig bekend gemaak is.

Die inkomsteberaming volg op die SAID se finale ongeouditeerde inkomste-invordering van R1 860 miljard vir die 2025-boekjaar tot einde Maart, wat wel R8,9 miljard meer is as 'n vorige hersiene beraming van wat hy sou invorder.

Die SAID mik om veral op die invordering van agterstallige belastingskuld te fokus as een van die maniere waarop hy die lopende boekjaar se teiken wil haal.

Meer skuldinvorderaars aangestel

In April reeds is 500 nuwe skuldinvorderaars by die SAID aangestel, en nóg 250 gaan teen Junie aangestel word, het Edward Kieswetter, kommissaris van die SAID, Woensdagoggend gesê.

Dit is deel van die mikpunt om altesame 1 700 ekstra skuldinvorderaars by die SAID aan te stel danksy 'n toekenning van R1 miljard van die tesourie.

Die SAID kry oor die drie boekjare van die mediumtermynbegrotingsraamwerk R7,5 miljard ekstra om sy invorderingsvermoë te verbeter.

In die afgelope boekjaar het die SAID reeds meer as 800 nuwe personeellede aangestel en opgelei om skuld in te vorder.

Volgens die SAID gaan hy hom wat skuldinvordering betref veral toespits op die belastingskuld waaroor belastingbetalers nie terugbaklei nie.

Volgens die SAID respekteer hy belastingbetalers se reg om geskille te verklaar oor wat hulle aan hom verskuldig is, of om vir afbetalingsplanne of uitgestelde betalings te vra. Die SAID moedig belastingbetalers egter aan om hul agterstallige skuld en opgawes vrywillig te betaal en in te dien.

Die mikpunt is om minstens R20 miljard se agterstallige belasting in te vorder, hoewel dit tot R50 miljard kan styg. Godongwana het Woensdag in sy begrotingsrede gesê hy glo die SAID kan minstens R35 miljard se skuld invorder. Hy sal dan nie in Februarie 2026 se begroting belastingverhogings van R20 miljard hoef aan te kondig nie.

Kunsmatige intelligensie en derdeparty-data

Volgens die SAID wil hy gevorderde data-ontleding en kunsmatige intelligensie gebruik om risiko's met belastingvoldoening op te tel en voldoening te verbeter.

Uitgebreide toegang tot die data van derde partye soos banke en werkgewers sal hom help om belastingberamings toenemend te outomatiseer en inkomste te identifiseer wat nie verklaar is nie.

Die SAID wil veral belastingontduiking in die onwettige ekonomie takel, soos in die drank-, brandstof- en tabakbedryf.

Hy wil ook die belastingbasis uitbrei deur individue en ondernemings te registreer wat voorheen buite die formele belastingstelsel sake gedoen het.

- francois.williams@24.com

CTA