Die regering en vakbonde wat die land se meer as 1,3 miljoen staatsamptenare verteenwoordig, het 'n driejaarooreenkoms onderteken wat tot 'n salarisverhoging van 5,5% vanaf 1 April sal lei.
Die aanvanklike aanbod van die staat was 'n verhoging van 3%, terwyl vakbonde 12% geëis het.
Ná maande se onderhandelinge het die staatsdiens se koördinerende bedingingsraad (PSCBC) daarin geslaag om op 17 Februarie 'n meerderheidsooreenkoms van 84,34% vir die nuwe verhoging te kry.
Nehawu was die enigste vakbond wat by die onderhandelinge betrokke was wat nié die ooreenkoms onderteken het nie.
Dié verhoging is meer as die heersende inflasiekoers. Inflasie was in 2024 gemiddeld 4,4% en is tans nagenoeg 3%.
In die volgende twee boekjare, vir 2027 en 2028, sal verhogings aan die inflasiekoers gekoppel wees.
LEES OOK | Staatsamptenare eis verhoging van 12%, regering bied 3% aan
Ander verhogings wat die staat aanbied
Benewens die salarisverhoging het die regering aanpassings aan verskeie toelaes vir vanjaar voorgestel, wat op 1 April van krag word:
• behuisingstoelae verhoog van R1 784 tot R1 900;
• subsidies vir mediese fonds word met 0,5% aangepas;
• gevaartoelae verhoog van R623,29 tot R650;
• spesiale gevaartoelae verhoog van R931,82 tot R950; en
• polisiedienstoelae verhoog van R700 tot R950.
Nóg onderhandelinge
Yoliswa Makhasi, die uitgaande direkteur-generaal van die departement van staatsdiens en administrasie, het met die sluiting van die ooreenkoms gevra vir die vinnige inwerkingstelling van die personeelbestedingsoorsig sodra konsultasies met vakbonde afgehandel is.
Dié oorsig het ten doel om die vermoë en etiek van die staatsdiens te verbeter, terwyl die uitdagings vir personeeluitgawes gepak word en die regering se doeltreffendheid verbeter word.
Mompati Galorale, die regering se hoofonderhandelaar, sê die volgende siklus van onderhandelinge oor twee jaar sal begin voordat die huidige ooreenkoms verval.
- stefani.terblanche@media24.com





















