"Ons is uitgeput," het dr. Duncan Pieterse, direkteur-generaal van die tesourie, Woensdag geantwoord toe hy gevra is hoe die tesourie se personeel voel nadat hulle in byna drie maande drie nasionale begrotings moes opstel.
Pieterse het op die mediakonferensie voor Woensdag se begrotingsrede gesê hy is egter baie trots op die tesourie-personeel se veerkragtigheid en toewyding.
Hy het toegegee hy en sy span is uitgeput deurdat hulle drie begrotings moes hanteer tesame met die finansiële stroom van die G20-proses vanjaar, bykomend tot al hul ander verantwoordelikhede.
Volgens Pieterse het die tesourie wel die laaste paar jaar al begin om diepte in die departement te bou met 'n pypleiding van vaardige mense. As voorbeeld noem hy dat die tesourie se begrotingshoof ná die eerste twee begrotings op 'n sabbatsjaar vertrek het. Met die noodsaak om nog 'n begroting te moet opstel, is gevoel dat hulle nie die persoon se sabbatsjaar wil onderbreek nie en 'n waarnemende hoof het saam met die span ingespring en 'n begroting van gehalte gelewer.
"Ek dink dit sê iets van die diepte en gehalte van die instelling."
Volgens Pieterse ontwikkel die tesourie as instelling, asook die personeellede, 'n soort veerkragtigheid omdat die tesouriewerk baie in die openbaar is en dit op die brandpunt tussen politiek en finansies is.
Hulle probeer ook die werksomgewing in die tesourie oor die algemeen verbeter om 'n gesogte werkgewer te wees en die beste talent te kan lok.
Leerproses vir almal
Enoch Godongwana, minister van finansies, sê die hele oefening was 'n groot leerproses vir almal wat betrokke was. Met geen party wat 'n volstrekte meerderheid het nie, is dit 'n meer raadplegende proses. Die verskillende politieke partye binne en buite die regering van nasionale eenheid (RNE) moes ook leer dis nie 'n maklike, eenvoudige proses om 'n begroting op te stel nie.
"Dit is moeilik. Fiskale verstandigheid moet aan die dag gelê word en die makro-ekonomiese omgewing moet in ag geneem word."
Volgens Godongwana sal die begrotingsproses volgende jaar beslis meer doeltreffend wees. Hy het vertel van een van die partye se voorstel vir R100 miljard se besparings. Dit was 'n fassinerende voorstel, maar dit het nie sin gemaak vir vandag nie, dalk wel vir oor 'n jaar of twee. Nog 'n party het gesê vat 15% van die provinsies se geld en gee dit vir plaaslike regerings. Volgens Godongwana is dit nie so eenvoudig nie en sou dit geweldige implikasies hê.
Munisipale skuld
Op 'n vraag oor die skuldlas van meer as R100 miljard van munisipaliteite aan Eskom, sê Pieterse die tesourie is in verskeie gesprekke met die 14 munisipaliteite gewikkel wat Eskom die meeste skuld.
Van hulle is kwesbaar om blootgestel te word aan optrede deur Eskom en die tesourie omdat hulle nie meer aan die voorwaardes van die skuldverligtingsprogram voldoen nie.
Dit beteken Eskom kan dalk besluit om op hul bates beslag te lê of die tesourie kan besluit om toedelings uit die staatskas van hulle te weerhou.
Inflasieteikens
Fundi Tshazibana, adjunkpresident van die Reserwebank, het op 'n vraag oor die nuwe inflasieteikens gesê die tegniese spanne van die tesourie en die Reserwebank het al ver met werk aan voorstelle vir die nuwe inflasieteikens gevorder.
Hulle sal mettertyd aanbevelings doen aan Godongwana en aan Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank.
Daar is reeds breë konsensus dat Suid-Afrika se inflasieteikenband van tussen 3% en 6%, wat die Reserwebank as riglyn gebruik vir na watter kant rentekoerse moet skuif, te wyd is, sê sy. Dit is nie in ooreenstemming met dié van lande van dieselfde portuur nie.
- francois.williams@24.com












