Om jou huis op te knap is 'n opwindende vooruitsig.
So 'n projek is nie sonder sy uitdagings nie.
Hier's enkele stappe wat jy in gedagte kan hou voordat jy met 'n groot projek wil begin.
1. Stel doelwitte: Ja, jy mag vaagweg dink jy wil dinge net 'n bietjie regruk, maar maak eerder 'n lysie van hoe jy die eindproduk wil sien lyk. Byvoorbeeld: "Kombuis: Eettafel vir gesin en meer werkruimte," is 'n goeie begin.
2. Is daar enige strukturele veranderings wat aangebring moet word? Dit kan 'n belangrike oorweging word, want dit behels groot masjinerie en hoër uitgawes. Veral 'n ouer huis sal straks 'n strukturele opknapping nodig hê.
Stap deur die huis en maak 'n lysie van items wat opgeknap moet word, soos die bedrading of die pype. Kyk ook na hoe jy die "vloei" in die huis kan verbeter.
3. Identifiseer jou opknap-prioriteite: Met jou moet-doen-lysie afgehandel, verdeel dit nou in twee groepe: Dit wat absoluut belangrik is en dit wat gaaf sou wees, maar nie so sleg as dit nie vandag gedoen sou kon word nie.
4. Inspirasie vir die nasie: Nou gaan soek jy na idees sodat jy 'n prentjie kan vorm van hoe jy elke vertrek daar wil laat uitsien.
Begin wyd, en vernou dit dan na daardie enkele voorbeelde waarvan jy die meeste hou.
5. Kry kwotasies en stel 'n begroting op: Dis beter om kwotasies van ten minste twee boukontrakteurs te kry voordat jy wegspring met die projek. Maak ook 'n lysie van alles wat gekoop moet word.
6. Kies die Regruk-span: Dis altyd beter om maar meer te betaal en die beste mense vir die taak te kry. Vra rond na wie aanbeveel word, kry verwysings en bekom kwotasies.
'n Professionele span sal binne die begroting en spertyd bly en goeie werk lewer. 7. Kry die nodige permitte en papierwerk: Konsulteer met jou bouer oor watter permitte jy sou mag nodig kry vir enige bouwerk.
Doen betyds aansoek sodat die projek nie onnodig in die middel van die werk opgehou word nie.
8. Stel 'n gedetailleerde opknappingsplan op: Stel 'n plan op wat die hele projek in 'n tydraamwerk uitstippel. Dis dinge soos wat alles gedoen moet word, wanneer dit gedoen moet word en hoeveel elke stap sal kos. Jy kan ook na die materiale en hul pryse verwys. Deel dit met die bouer.
9. Kommunikasie en papierwerk: Kom met die bouer ooreen oor hoe, wanneer en hoe dikwels julle met mekaar sal praat oor die vordering van die projek. Sit dit in die kontrak sodat almal duidelikheid het daaroor.
Jy kan ook die intervalle van wanneer betalings gedoen moet word daarby insluit. Dis altyd ook 'n goeie idee om 'n ekstra 10% in jou begroting in te werk vir onvoorsiene uitgawes. Laat weet ook jou versekeraar dat jy opknappings doen. Dalk moet jou polis bygewerk word.
10: Praktiese stappe: Maak vooraf seker of jy dalk uit jou huis sal moet trek wanneer daar met bouwerk begin word.
Hou ook in gedagte, as daar aan die kombuis of badkamer gebou gaan word, waar jy dan sal kosmaak of was.
Maak die meubels toe met lakens en gebruik 'n lugsuiweraar om van die ergste stof in die huis ontslae te raak.




















