Die Internasionale Unie van Argitekte, met 'n ledetal van sowat 1,3 miljoen argitekte oor die wêreld heen, is 'n nieregeringsorganisasie wat deur Unesco ondersteun word.
Hulle word beskou as die enigste sodanige unie wat op internasionale vlak funksioneer, en bied elke drie jaar 'n wêreldkongres van argitekte aan.

Vanjaar was Kopenhagen die gasheer, en in 2014 is die kongres in Durban gehou. 'n Geraamde 6 000 deelnemers van 135 lande het vanjaar tussen 4 en 6 Julie in Kopenhagen meegedoen aan besprekings, werksessies en seminare. In die loop van die kongres het 400 sprekers in 150 sessies aan gesprekke en besprekings deelgeneem.
Die doel was om argitektuur as 'n belangrike rolspeler te betrek om die Verenigde Nasies se "17 doelwitte vir volhoubare ontwikkeling" te bereik.
By hierdie 28ste geleentheid was die hooftema die volgende: "In 'n volhoubare toekoms bly niemand agter nie".
Omdat die aard en wese van argitektuur, asook die karakter en siel van bou-wêrelde, 'n ingrypende en komplekse impak op mense se welsyn het, is daar onder meer klem gelê op die wyse waarop argitektuur se diepgaande bemiddeling van die samelewing en die wydliggende potensiaal wat dit bied, geaktiveer kan word om 'n volhoubare, regverdige en inklusiewe toekoms te skep.
Daar is geredeneer oor hoe kritiese, betrokke ontwerp beleidsbepaling en 'n omvattende begrip van die volhoubare-ontwikkelingsdoelwitte uitdaag, sowel as oor die manier waarop argitektuur die sosiaal-omgewingsbalans beïnvloed. Die mees prominente vrae, praktyke, navorsings- en ontwikkelingsmetodes is geïdentifiseer vir die dringende transformasie wat deur die samelewing benodig word om 'n volhoubare, regverdige en inklusiewe toekoms vir almal te skep.
Toekoms van die huis
Telkemale is daarop gewys dat die huis 'n spesiale plek inneem, en dat mense graag hul woonplek hul eie wil maak omdat dit 'n weerspieëling van hul identiteit moet wees, maar ongelukkig is die dienste van argitekte nie vir almal bekostigbaar nie.
Die grootste uitdaging bly egter om 'n volhoubare huis te skep, met ander woorde: Die huis moet energiedoeltreffend wees en goedkoper om te bedryf.
Dit moet duursaam wees en van boumateriaal vervaardig word wat nie skadelik is vir die inwoners of die omgewing nie.
Wat van volgende geslag?
Een van die besprekingsgroepe het besin oor die toekoms van volgendegeslag-woonhuise.
Die paneel het sy erns uitgespreek oor innoverende benaderings, die mees gevorderde tegnologieë, en volhoubare oplossings wat besig is om die manier te verander waarop ons daaglikse bestaan gevoer word.
Ikea se jaarlikse verslag "Life at Home", wat op onderhoude met 30 000 mense oor die wêreld heen gebaseer is, is 'n poging om vas te stel wat mense se huishoudelike behoeftes is, aangesien dit vir hulle belangrik is om 'n refleksie van hulself in hul leefruimtes te sien.
Volhoubaarheid was die sleutelonderwerp in een van die paneelbesprekings, met die fokus op die wyse waarop woonhuise die ambisieuse teikens uitdaag wat deur die samelewing daargestel is.
Die paneellede het strategieë ondersoek om emissies in die konstruksiebedryf en ook in die bestuur van gesinswonings te verlaag, met klem op die belangrikheid van die gebruik van volhoubare materiale, energiedoeltreffende sisteme en verantwoordelike afvalbestuur.
Die uitdagings van hoëdigtheidwoonplekke teenoor laedigtheidwoonplekke, asook die dinamika tussen stedelike en voorstedelike leefwyses, het ook onder die loep gekom. Die behoeftes en aspirasies van gemeenskappe is ondersoek.
Laaste sê
Die kongres is afgesluit met die bekendstelling van tien beginsels vir snelle en radikale verandering in die konstruksie-omgewing.
1.Die waardigheid en belangrikheid van alle mense is 'n fundamentele vereiste in argitektuur. Daar is geen skoonheid in uitsluiting nie.
2.Diegene wat gevaar loop om uitgesluit te word, moet eerste geakkommodeer word wanneer 'n bouterrein ontwikkel word.
3. Bestaande boustrukture moet eerste vir hergebruik oorweeg word.
4. Nuwe ontwikkelings mag nie groen ruimtes vernietig nie.
5.Natuurlike ekosisteme en voedselproduksie moet volhoubaar bly.
6.Geen natuurlike hulpbronne soos hout, plastiek, harpuis en metaaldelfstowwe moet in hul onverwerkte vorm as boumateriaal gebruik word wanneer die hergebruik van soortgelyke stowwe 'n alternatief is nie.
7. Alle bou-afval moet verwyder word.
8.In die verkryging van boumateriaal moet plaaslike hernubare materiaal voorkeur geniet.
9.Met alle bouprojekte wat onderneem word, moet die opgegaarde koolstof meer wees as die koolstofvoetspoor.
10.Wanneer die ontwikkeling van 'n bouterrein plaasvind, moet sorg gedra word dat elke aktiwiteit positief inwerk op die water-ekosisteme en skoonwater-voorraad.
Met hierdie riglyne word veral gepoog om transformatiewe vordering op die gebied van volhoubare konstruksie te verseker.
Die tien riglyne is van toepassing op 'n snelgroeiende en radikale verandering in die bou-omgewing om die VN se 17 doelwitte te bereik.
Nogmaals, "besin voordat jy bou" is 'n onomkeerbare slagspreuk waarmee die kongres afgesluit is.
- Bezuidenhout is 'n eiendomskonsultant van Stellenbosch.
















