Eiendomme

Daar’s groot voordele in veilings uit boedel

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Baie mense weet min van veilings uit bestorwe boedels, terwyl hierdie veilings geleenthede en voordele aan kopers en verkopers bied.

Die oorkoepelende voordeel vir kopers is dat hulle dikwels uitsonderlike waarde vir geld kry.

Veilingseiendomme (soos op dié foto) wat deel is van bestorwe boedels, word normaalweg teen ’n regverdige mark­waarde verkoop en bied dus ’n goeie geleentheid aan kopers, sê PVA.Foto: PVA
Veilingseiendomme (soos op dié foto) wat deel is van bestorwe boedels, word normaalweg teen ’n regverdige mark­waarde verkoop en bied dus ’n goeie geleentheid aan kopers, sê PVA.Foto: PVA

Jaco du Toit van Park Village Auctions (PVA) bied insig in die proses wat met veilings uit bestorwe boedels gevolg word.

Wanneer iemand te sterwe kom, vorm hul roerende en vaste bates deel van hul boedel, wat ooreenkomstig hul testament verdeel moet word.

"Daar is verskeie omstandighede waaronder die bates verkoop sal moet word ten einde die boedel af te handel," sê Du Toit. "Voorbeelde sluit in dat kontant bekom moet word om skuld te delg of dat die erfgename kies om hul erfporsie te verkoop en die opbrengs daarvan gelykop te verdeel."

Terwyl eksekuteurs 'n eiendomsagent kan aanstel om die eiendom uit die bestorwe boedel te verkoop, moet die eiendom teen 'n billike markwaarde verkoop word.

Du Toit sê dit is hier waar veilingshuise soos PVA vir hul diens genader word.

"Veilings het die reputasie dat hulle deursigtig is en markverwante pryse beding, wat deel is van hul aantrekkingskrag vir verkopers en kopers wat op soek is na 'n winskoop.

"Meer dikwels as nie sal die eksekuteur kies om meer as net eiendom te verkoop. Daar mag dalk ook voertuie, toerusting of selfs 'n onderneming as 'n lopende saak op die tafel wees.

"Dit is geriefliker om 'n veilingshuis aan te stel om die verkoop van die bate in sy geheel te behartig."

Wanneer 'n veilingshuis gekies word om die verkoop namens die bestorwe boedel te hanteer, stel Du Toit voor dat daar na die geloofwaardigheid en rekord van die veilingshuis gekyk word.

"PVA is byvoorbeeld geregistreer as professionele waardeerders by die Suid-Afrikaanse Raad vir die Eiendomswaardeerder-professie, asook by die Instituut vir Eiendomsagente van Suid-Afrika, en is erkende taksateurs van die hooggeregshof."

Hy voeg by dat 'n mens moet kyk na hoeveel bestorwe boedel-veilings op 'n veilingshuis se webblad aangegee word - wat jou 'n aanduiding sal gee van hul bedrewenheid in sulke sake.

Behalwe dat kopers 'n billike, markverwante prys vir hierdie bates betaal, trek hulle ook voordeel uit veilings omdat die proses deursigtig is.

Die transaksie word met die val van die hamer beklink.

Dit is selde dat daar twyfelagtige voorwaardes is. Indien daar enige voorwaardes is, word dit deur die meester van die hooggeregshof vasgelê.

"Daar is ook 'n wanopvatting dat banke nie eiendom wat deur middel van 'n veiling gekoop word, finansier nie, maar dit is nie die geval nie," sê Du Toit.

Wanneer finansiering ter sprake is, verduidelik hy, moet 'n koper eers die finansiering bekom voordat hy die veiling bywoon.

"Kopers is met die sluiting van die koop aanspreeklik vir die deposito, BTW en kommissies. Daarna moet die koper ‘waarborge' lewer vir die uitstaande bedrag wat ook 'n spertyd sal hê."

Du Toit doen ook aan die hand dat belangstellende kopers altyd die eiendomme moet gaan besigtig, aangesien alle veilingseiendomme voetstoots verkoop word, en dat hulle hulself voor die veiling reeds moet vergewis van die verkoopsvoorwaardes.

"Mense moet gemaklik voel om vrae te vra.

"Dit is 'n gevaarteken wanneer die veilingshuis nie openlik met inligting is nie. Ons beskou kopers en verkopers as ons kliënte en werk met die hoogste integriteit om 'n puik diens aan albei te lewer."

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM