Die onlangse dood van die aktivis, digter, skrywer en skilder Breyten Breytenbach laat 'n groot leemte in die Suid-Afrikaanse kultuurlandskap. Dit was veral sy liefde vir en meesterlike gebruik van Afrikaans wat voor die gees staan.
Breyten skryf in sy gedig "Die tongvervreemding" dat wanneer sy (moeder-) taal van hom weggeneem word, dit hom laat " . . . met die mondmaniere / van 'n tong wat nog net / die blinde werk van miere kan doen".
Die verskynsel wat so mooi hier beskryf word, is ook van toepassing in die konteks van die "taal" van deeltitelbestuur. Wanneer 'n mens kommunikeer in 'n taal waarmee jy nie genoegsaam vertroud is nie, sukkel jy om jouself uit te druk. Insig in dít wat 'n ander persoon aan jou probeer oordra, ontbreek ook dikwels. As trustees, eienaars en bestuursagente in deeltitelskemas nie basiese regsbegrippe, reëls of regte en verpligtings van rolspelers behoorlik begryp nie, doen ons tong die "blinde werk van miere" en word onoordeelkundige besluite en verkeerde uitsprake soms gemaak.
'n Voorbeeld van energieke dog blinde onkunde is onlangs deur 'n leser verskaf (vir doeleindes van privaatheid word sekere feite hier gewysig). Die leser skryf dat hy en twee ander eienaars pas hul skema se nuwe trustees geword het nadat die vorige drie trustees deur die ontevrede eienaars uitgestem is.
Uit wraak vir hul afsetting weier die voormalige trustees nou om sekere dokumente (waaronder 'n konsepbeleidsdokument oor sonkragpanele en konsepveranderings aan gedragsreëls wat reeds op 'n jaarvergadering bespreek is) aan die nuwe trustees te oorhandig.
Die voormalige trustees voer aan dat dit hulle dit self opgestel het, dit hul eie intellektuele kapitaal en derhalwe private eiendom is, en dat die nuwe trustees maar opnuut hul eie beleide en gewysigde reëls moet opstel.
Boonop dring een van die voormalige trustees ook daarop aan om voortaan trusteevergaderings (as 'n waarnemer) by te woon. Daar is min twyfel dat sy bedoel om die nuwe trustees se werksaamhede te ontwrig.
Die leser vra of die voormalige trustees daarop geregtig is om die dokumente wat versoek is te weerhou, en hoe om te voorkom dat trusteevergaderings gesaboteer word.
Dit dien benadruk te word dat die feite van elke bepaalde situasie uniek is. In hierdie rubrieke word tersaaklike beginsels breedweg bespreek op grond van die beskrywings wat lesers gee, maar die fyner besonderhede van elke geval sal telkens deurslaggewend wees in die bepaling van hoe die reg daaroor sal oordeel.
Wat weerhouding van die dokumente in die onderhawige voorbeeld betref: Daar blyk nie meriete te wees in die voormalige trustees se weiering nie. Die dokumente is voortgebring in die loop van die persone se werksaamhede as trustees en behoort aan die regspersoon. Ingevolge art. 8 van die Deeltitelbestuurswet staan trustees in 'n vertrouensverhouding teenoor die regspersoon. Hulle is verplig om in goeie trou op te tree, hul bevoegdhede tot voordeel van die regspersoon uit te oefen, belangebotsings te vermy en nie hul magte te oorskry nie. Die voormalige trustees is verplig om die dokumente te oorhandig.
Gegrond op die veronderstelling dat dit nie die moeite werd is om die dokumente van nuuts af op te stel nie, behoort die nuwe trustees verder op te tree. 'n Aangewese eerste stap is 'n skriftelike kennisgewing aan die voormalige trustees wat die persone versoek om die dokumente binne 'n redelike tyd (byvoorbeeld sewe dae) aan die nuwe trustees te oorhandig.
Indien die ou trustees volhard in hul weiering, kan die nuwe trustees die Ombudsdiens vir gemeenskapskemas (CSOS) of die hof nader vir 'n bevel.
Nodeloos om te sê, indien die dokumente op 'n ander wyse bekom kan word (het een van die ander eienaars moontlik 'n afdruk?) moet dit eerder só bekom word as om met regsaksie 'n punt te probeer bewys.
Verder: Die trustees moet vir lief neem met die feit dat die voormalige trustee (sy is steeds 'n eienaar in die skema) voortaan trusteevergaderings bywoon. Hulle moet die toepaslike reëls van die skema goed bestudeer ten einde te verseker dat hulle nie inbreuk sal maak op enige individu se regte nie, maar tegelykertyd ook die regspersoon se belange beskerm. Benewens kennis word wysheid hier vereis.
Wysheid sal in gedagte hou dat, selfs in die aanskyn van uittarting, die persoon wat in 'n magsposisie staan nie kleinlik sal raak nie, maar dat hy of sy met deernis en 'n volgehoue goeie gesindheid sal optree. Dit is 'n wesenskenmerk van goeie leierskap.
Voorgeskrewe bestuursreël (BR) 11(3) bepaal dat (onder andere) eienaars geregtig is om trusteevergaderings by te woon.
Hulle mag selfs spreekbeurte vra maar mag nie mosies voorstel of stem nie. Reël BR 11(3) bevat egter 'n voorbehoud, en dit is hier waar 'n klinkklare reg-of-verkeerd-antwoord uitrafel soos die wasige rand van 'n vlieswolk.
Eienaars is ingevolge BR 11(3) nie daarop geregtig om daardie dele van trustee vergaderings by te woon waar:
• besprekings deur die trustees plaasvind oor verbrekings van wetsbepalings of die skema se reëls nie; of
• enige ander sake bespreek word, en waaroor die trustees 'n besluit geneem het dat die teenwoordigheid van die betrokke persone sal lei tot 'n onredelike inbreukmaking op die regspersoon se belange of die privaatheid van enige persoon nie.
Die toepassing van dié reël bring in praktyk uitdagings mee en verg goeie oordeel van trustees. Die reël verleen 'n taamlike wye diskresie aan die trustees, en laat in die onderhawige geval ruimte vir weiering dat die voormalige trustee dáárdie gedeelte van die vergadering bywoon waar bespreking gevoer word oor die versuim om die bepaalde dokumente te lewer en oor die stappe wat die trustees daaromtrent gaan doen. Daar sal mooi gedink moet word oor die formulering van watter wetsbepaling of reël oortree word of oor wat sal kwalifiseer as 'n "onredelike inbreukmaking".
'n Hof of CSOS sal waarskynlik nie in 'n trusteebesluit inmeng waar trustees goeie redes vir hul besluit (om toegang tot die vergadering te weier) verskaf nie, en waar dit duidelik is dat hulle in goeie trou en in belang van die regspersoon opgetree het. Dit bly 'n subjektiewe oordeel, en elke geval sal op meriete beoordeel moet word.



















