Eiendomme

EIENDOMSAKE: Kletsbotbemarking in die eiendomsbedryf

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Om residensiële eiendomme te bemark, verg besondere persoonlike vaardighede wat ondersteun moet word deur besondere hulpmiddels.

Nie alle eiendomsagente beskik noodwendig oor die nodige persoonlike vaardighede en kundigheid om binne die kortste moontlike tyd 'n transaksie van etlike miljoene rande oor 'n afstand van waarskynlik etlike duisende kilometers te beklink nie. Daar moet ook rekening gehou word met die feit dat die meeste eiendomsagente wil verseker dat hulle nie 'n potensiële kliënt en 'n moontlike alleenmandaat dalk moet afstaan aan ander agente van ander agentskappe nie.

Gert Bezuidenhout
Gert Bezuidenhout (SYSTEM)

Dit is dus van groot belang dat agente met die nodige professionaliteit en met behulp van alle moontlike hulpmiddels tot hul beskikking optree.

Wanneer agente 'n navraag ontvang wat betrekking op 'n eiendom het wat deur hulle op die internet of in die gedrukte media geadverteer word, sal die primêre doelwit onmiddellik wees om die bepaalde, of 'n soortgelyke eiendom, so spoedig moontlik aan voornemende kopers te verkoop.

Om hulle in hul pogings te ondersteun om hierdie doelwit te bereik, sal alle moontlike hulpmiddels ingespan moet word. Die sosiale media bied heelwat bemarkingsvoordele, maar 'n belangrike toevoeging tot hierdie arsenaal van hulpmiddels is kletsbotbemarking. Dit is dus noodsaaklik dat die kletsbot so uniek en doeltreffend moet wees dat dit as die spil dien waarom 'n agent se bemarkingstrategie draai.

Wat is 'n kletsbot?

'n Kletsbot is 'n toepassing (app) wat van die internet afgelaai word teen 'n tarief, en met kunsmatige intelligensie toegerus word om 'n bepaalde produk - in hierdie geval 'n residensiële eiendom - te bemark. Belangstellende kopers wat as gevolg van lang afstande of dalk 'n gebrek aan tyd nie onmiddellik 'n besoek aan 'n betrokke eiendom kan bring nie, het dan toegang tot die eiendom deur middel van 'n volblad-kletsbot.

Dit geskied onder meer met behulp van 'n driedimensionele video-opname, byvoorbeeld 'n Matterport-opname, van die eiendom. Hierdie opname maak dit vir die voornemende kliënt moontlik om 'n uitgebreide visuele besigtigingstoer deur die eiendom af te lê, herhaalde kere, indien nodig.

Enige vrae oor die eiendom word skriftelik aan die kletsbot op die slimfoon of tablet gerig, waarop die kletsbot onmiddellik reageer met die relevante inligting.

Omdat die eiendomsbedryf nie staties is nie, is dit noodsaaklik dat 'n kletsbot deurentyd by hierdie snelveranderende bedryf aanpas om sy lewenskragtigheid te bewys en te behou.

Al die data wat op 'n agent en die maatskappy se webblaaie verskyn, word deur die kletsbot-app op die kletsbot afgelaai. Namate hierdie inligting verander of aangepas word, sal dit ook outomaties op die kletsbot geskied. So ook wanneer 'n nuwe notering by 'n agent se portefeulje gevoeg word, sal dit outomaties op die kletsbot verskyn.

Dit is noodsaaklik om deurlopend inligting van gehalte van voornemende kopers te bekom. Sodanige leidrade mag dalk daarop dui dat die koper of verkoper ernstig daaraan dink om mettertyd te koop of verkoop.

Sulke leidrade moet met erns bejeën word, want dit mag ook wees dat die koper of verkoper beplan om eers veel later by 'n koop- of verkooptransaksie betrokke te raak.

Die interaksie tussen 'n volblad-kletsbot en kliënt geskied deur middel van vrae wat dikwels gevra word met betrekking tot ligging, waarskynlike prysgroeperinge en ander noodsaaklike inligting wat benodig word om 'n kliënt te kwalifiseer. Die data wat van kliënte afkomstig is, moet dadelik bewaar word sodat 'n lys van geskikte eiendomme wat moontlik aan die kliënte se vereistes voldoen, aan hulle beskikbaar gestel word. Nie alleen word tyd bespaar nie, maar dit help ook om 'n kliënt te kwalifiseer.

Wat is 'n app?

Die apps wat geskep is om op klein, draadlose rekenaarapparate (slimfoon, iPad, tablet) gebruik te word om bepaalde funksies uit te voer, word 'n mobiele app genoem waarvan daar drie soorte is:

  • 'n Oorspronklike app is 'n sagtewareprogram wat deur ontwikkelaars gebou is om op 'n bepaalde platform gebruik te word.
  • 'n Webgebaseerde app is 'n toepassingsprogram wat op 'n afsonderlike bediener gestoor word en beskikbaar is op die internet.
  • 'n Hibriede app is 'n kombinasie van 'n mobiele en 'n oorspronklike app.

Kunsmatige intelligensie as deel van kletsbot

Kunsmatige intelligensie behels die elektroniese data wat betrekking het op die eiendomme wat deur agente bemark en op 'n kletsbot afgelaai is.

Voornemende kopers of huurders begin hul soektog na 'n nuwe eiendom aanlyn waar hulle eiendomme in hul eie tyd kan besigtig en ongesteurd virtuele, driedimensionele toere deur bepaalde eiendomme kan onderneem - soveel kere as wat hulle nodig ag.

Ter wille van oorlewing is dit ook noodsaaklik dat eiendomsagente operasioneel meer doeltreffend en geoutomatiseerd moet wees, en deurentyd nuwe maniere moet vind om te kan differensieer tussen die koopervarings wat hulle vir kliënte skep.

Kletsbotte in die eiendomsbedryf is in wese virtuele agente wat dit vir praktiserende agente moontlik maak om op belangriker aspekte van hul beroep te fokus.

  • Bezuidenhout is 'n eiendomskonsultant van Stellenbosch.
Gert Bezuidenhout

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM