Goed, jy stel belang in 'n bepaalde eenheid in 'n nuwe sekuriteitslandgoed. Hoe veilig is hierdie nuwe ontwikkeling? Waarvoor moet jy op die uitkyk wees om met 'n geruste hart jou beleggingsgeld aan die huis te bestee?
Hier is 'n kortlys van items wat jy in oorweging kan neem wanneer jy 'n nuwe ontwikkeling se maatreëls beoordeel.
1. Biometriese toegangsbeheer: Die jongste landgoedere het bykans almal vandag 'n sentrale toegangshek waar daar sekuriteitswagte is en biometriese toegangsbeheer toegepas word. Die modernste tegnologie in dié verband is gesigsherkenning.
Dit is gaaf, maar dit is selfs nog beter as hierdie tegnologie gekombineer word met 'n stelsel waar die eienaar 'n bepaalde toegangskode moet voorsien wat die kuiergas moet gebruik om tot die kompleks toegelaat te word. Die hekwag kan dan die kode met die gas se ID- en motorregistrasienommer vergelyk om te kyk of dit inderdaad een en dieselfde persoon is.
2. Sekuriteitskameras: Hierdie tipe kameras moet deur die hele kompleks op strategiese plekke opgerig wees van waar alle dele dopgehou kan word, die ingang ingesluit.
Infrarooi- en hittekameras is van die jongste tipes wat gebruik kan word, en werk uitstekend om as afskrikmiddel te dien, en om met vinnige reaksie van dienste te help wanneer dit nodig is.
3. Patrollies en reaksiemagte: Sekuriteitskameras is nuttig om iets te sien gebeur, maar om werklik effektief te wees, moet so 'n diens gekoppel wees aan 'n reaksiemag wat onmiddellik kan reageer en na die kompleks kan kom om die diewe vas te trek.
Gereelde patrolliedienste in die kompleks is nog 'n manier waarop sekuriteit verhoog kan word. Deurdat hulle sigbaar is, dien hulle alreeds as 'n afskrikmiddel aan potensiële inbrekers.
4. Beveiligde heining:'n Geëlektrifiseerde veiligheidsheining al om die grens van die kompleks is 'n moet in jou arsenaal om die inwoners veilig te hou. Dit beteken inwoners kan die volle omvang en geriewe van die kompleks met gemoedsrus benut.
So 'n heining moet aan 'n alarm gekoppel wees, wat ook die sekuriteitsdiens dadelik sal laat uitkom.
5. Gemeenskapsbetrokkenheid: Bloot omdat die kompleks omhein is, beteken nie dat die inwoners hulself moet afsluit van die buitewêreld en die gemeenskappe rondom hulle nie.
Wees vriendelik en hou 'n gemeenskaplikheid in stand - dit sal baie beteken as jou bure ook hul oë en ore oop hou sodat die kompleks 'n veilige plek teen indringers kan wees.
Landgoedere wat byvoorbeeld naburige gemeenskappe bystaan met werkgeleenthede, help nie net die plaaslike ekonomie nie, maar verminder ook so die noodsaaklikheid van misdadige aktiwiteite deur die behoefte daaraan weg te neem.


















