'NNuwe woonstelontwikkeling waarvan al 18 weelderige wooneenhede met voltooiing onbelemmerde uitsigte oor die skilderagtige Houtbaai en Karbonkelberg sal hê, het selfs die eiendomsbedryf verras toe al die eenhede binne slegs twee minute ná hul vrystelling verlede week tydens 'n geselligheid deur kopers opgeraap is.
Die bekroonde ontwerp van The Beach House, deur Bomax-argitekte, beslaan net 18 eenhede en almal het uitsigte oor die Atlantiese Oseaan en Chapmanspiek.
Die boetiekontwikkeling het meer as 1 500 belangstellendes gelok sodat die 18 eenhede binne skaars twee minute uitverkoop is.
Volgens die ontwikkelaars sal elke eenheid beskermde see-uitsigte hê. Daar is ook talle geriewe beskikbaar terwyl net die beste afwerkings gebruik is.

Interessant is ook dat die ontwikkeling gereed is vir korttermyn-verhuring. Kopers kan uit pasgemaakte meubelpakkette kies, terwyl korttermynverhurings deur TotalStay namens die eienaars behartig kan word.
Die ontwikkelaars verwag dat eienaars opbrengste van tot 9,6% per jaar kan behaal. Hoewel die Kaapse middestad en Groenpunt reeds 'n sterk aanbod van eenhede vir korttermynverhuring bied, kyk beleggers sowel as ontwikkelaars al meer hoe na die Atlantiese kusstrook as volgende opsie vir hierdie tipe van verhuring aan buitelandse besoekers.
Houtbaai is binne 'n halfuur se ry van die Kaapse middestad, die gewildste strande en die Waterfront. Tog het dit ook sy eie dorpie-karakter, en is naby Chapmanspiekrylaan, die Boulders-strand en die Kirstenbosch- Botaniese Tuin.



















