Drie lyke in motor naby Houtbaai gevind

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die Wes-Kaapse polisiehoof, lt.genl. Thembisile Patekile, het ’n driedubbele moord Dinsdagaand in Imizamo Yethu by Houtbaai as ’n sinnelose geweldsdaad beskryf.

Die polisie het Dinsdag omstreeks 23:45 op die lyke van drie mans in ’n silwer Hyundai i20 by Holomisaplein afgekom. Hulle het almal skietwonde gehad.

Die identiteit van die mans en die motief vir die driedubbele moord is nog onbekend, het kol. Andrè Traut, polisiewoordvoerder gesê. Dit word nie uitgesluit dat dit met afpersing verband hou nie.

Speurders verbonde aan die provinsiale eenheid wat ernstige geweldsmisdrywe ondersoek, is ontplooi. Hulle volg tans alle leidrade op om die skuldiges te identifiseer.

Patekile het die moorde nie net as ’n sinnelose daad van geweld beskryf nie, maar ook as ’n gevoellose minagting vir menselewens.

“Die vlak van geweld in hierdie voorval is diep kommerwekkend,” het Patekile gesê.

Hy het ’n beroep op die gemeenskap gedoen om saam met die polisie te werk om diegene wat vir die moorde verantwoordelik is, aan te keer.

Intussen het die polisie gevra dat mense met inligting oor die voorval of wat kan help om die oorledenes te identifiseer die Stop Misdaad-nommer, 08600 10111, skakel of die My SAPS-app gebruik. Alle inligting sal as vertroulik hanteer word.

– maygene.dewee@24.com

SPELETJIES VANDAG

CTA