Kommersiële eiendom en kantoorruimte se gesonde vertonings die afgelope jaar dui op 'n belowende vooruitsig vir die breë eiendomsektor vir die res van die jaar.
Maar onsekerheid oor wat die verkiesing kan inhou, asook 'n trae ekonomie en hardnekkige inflasie, kan dié groen lote laat verdor.
Dit is die versigtig-optimistiese mening van die jongste Rode-verslag oor die land se eiendomsbedryf in die eerste kwartaal.

In-diepte verslag
Die omvattende verslag fokus op vier aspekte: die residensiële eiendomsmark (koop en verhuur), die kommersiële eiendomsmark, genoteerde eiendom en industriële eiendom.
'n Duidelike verhaallyn wat deur die hele verslag loop, is die negatiewe invloed van bou-inflasie. Dit beteken hoewel daar in verskeie sektore klein of matige groei was, dit als gegenegeer is deurdat die bou-inflasie so hoog is (13,9%).
Groei in reële terme was dus negatief, al was daar nominale (jaar op jaar) groei.
Onsekerheid oor die nasionale verkiesing het ook 'n negatiewe impak gehad.
Die onsekerheid het ook 'n direkte impak op die huidige hoë rentekoers. Verwagtinge dat rentekoerse vroeg vanjaar sou begin daal, is weens hardnekkige hoë inflasiesyfers na later die jaar uitgeskuif.
En laastens is daar nog 'n goue draad in die verslag: Die Wes-Kaap vertoon strykdeur strate beter op bykans elke meetbare faktor teenoor die res van die land.Kommersiële eiendomwas die sterkste vertoner in die verslag. Dit word dan ook as 'n groen loot uitgesonder.
Kommersiële eiendom het sy sterk vertoning - teen die verwagtinge in - in die eerste kwartaal van 2024 voortgesit met lae leegstaankoerse en sterk huurinkomste-groei wat oor die land heen behaal is, sê die verslag.
Kaapstad veral het 'n sterk vertoning gelewer met 'n 20%-groeikoers sedert 2019 se pre-pandemievlakke.
Industriële eiendom se huurinkomste het landwyd met 15% gegroei, maar die verslag sê met bou-inflasie in ag geneem, was dit steeds marginaal laer as teenoor 'n jaar gelede se syfers.
Wat kantoorruimte betref, was daar matige huurinkomstegroei en 'n laer leegstaankoers in die algemeen.
Die nasionale leegstaankoers (13,9%) is wel steeds hoër as wat dit voor die pandemie was (10,5%).
Dit beteken ook dat daar 'n kleiner aptyt is om nuwe kantoorgeboue op te rig.
Wat winkels en winkelsentrums betref, word gemeld dat daar 'n matige groei van 3,4% was, wat effens stadiger as verlede jaar (5,6%) s'n was. Met bou-inflasie in ag geneem, het dit eintlik met 1,4% geval.
Huise markeer die pas
Wat die residensiële mark betref, was huisprysgroei steeds stadig weens hoë rentekoerse en 'n trae ekonomie. In die algemeen is verwagtinge vir laer koerse voorlopig eers uitgestel, terwyl die verkiesing ook 'n faktor is, sê die verslag.
Huispryse het nominaal met 0,8% jaar op jaar gegroei, maar in werklike terme met inflasie ingereken, is pryse eintlik swakker as verlede jaar.
Goeie nuus vir Wes-Kapenaars is egter dat huise in die provinsie die vinnigste verkoop vergeleke met die res van die land. Rode voorspel steeds trae groei vir die res van die jaar, en verwag dat dit nog lank gaan neem voordat koerse daal.
Woonstelle se nasionale leegstaankoers (7,9%) was effe hoër as verlede jaar se 7,2%. Maar weereens stof die Wes-Kaap die res uit met 'n leegstaankoers van net 2,3%.
En laastens het genoteerde eiendom se vroeë prysgroei van verlede jaar skerp omgeswaai. Winkelsentrums se leegstaankoers (vir hierdie afdeling) het wel gedaal na 4,5%, maar dit is steeds hoër as vlakke voor die pandemie.

















