Eiendomme in die Moederstad bly die duurste in Afrika, met "prima residensiële eiendom" wat op gemiddeld $5 600 per m² gewaardeer word.
Grand Baie in Mauritius is 'n kortkop agter Kaapstad met $5 000 per m² vir 'n prima woonstel van 200 m² tot 400 m², blyk uit die Africa Wealth Report van 2024 wat deur Henley & Partners en New World Wealth gepubliseer is.
Suid-Afrika het vyf aanspraakmakers in Afrika se tien duurste stede, insluitend Plettenbergbaai ($2 400 per m²), Hermanus ($2 300 per m²), Umhlanga ($2 000 per m²) en Sandton ($1 800 per m²).
Marrakesj ($2 200 per m²), Tangier ($1 600 per m²) en Casablanca ($1 400 per m²), al drie stede in Marokko, maak dit tot in die eksklusiewe klub saam met Kaïro ($1 500 per m²), hoofstad van Egipte.
Berry Everitt, uitvoerende hoof van die eiendomsgroep Chas Everitt International, het in reaksie op die verslag Afrika - en spesifiek Suid-Afrika - beskryf as 'n ster wat opgang maak in die internasionale mark vir luukse eiendom.
"In teenstelling met ander groot ekonomiese blokke het die vasteland meestal 'n jong en vinnig groeiende bevolking, sowel as 'n baie vinnige pas van verstedeliking. Dit genereer reeds 'n aansienlike aanvraag na dienste en produkte en trek 'n toenemende aantal welvarende individue wat winsgewende geleenthede in kommunikasie, finansiële dienste, infrastruktuur, kleinhandel en vervaardiging, sowel as in landbou, logistiek, kommoditeite en residensiële en kommersiële eiendom, vind.
"En dit bied 'n hupstoot in die aanvraag na luukse eiendom."


















