Eiendomme

Northcliff-villa kom op die veilingsblok

In 'n veiling in samewerking met WH Auctions sal Park Village Auctions (PVA) 'n "manjifieke" gesinswoning met 'n panoramiese uitsig oor Northcliff verkoop.

"Met sy sterk ooreenkomste met 'n Franse villa sal die huisbewoners skaars voel dat hulle in een van Johannesburg se mees gesogte buurte woon, maar eerder in 'n Europese château," sê Roy Lazarus van PVA, wat die huis as "goed versorg en statig" beskryf.

Hierdie statige woning in Northcliff wat op 18 Julie opgeveil word, herinner aan ’n Franse villa.Foto: PVA
Hierdie statige woning in Northcliff wat op 18 Julie opgeveil word, herinner aan ’n Franse villa.Foto: PVA (SYSTEM)

Volgens Lazarus maak hierdie eiendom se grootte, sy eienskappe en ligging naby talle wêreldklasgeriewe dit 'n uiters gesogte kopie vir gesoute beleggers.

Frederick-rylaan 198A, Northcliff, is deel 2 van Erf 331 en is 1 350 m² groot.

Van die kolonnade-ingang maak die huis op die boonste grondvlak oop, wat 'n dubbel­volume-ingangsportaal, 'n gastetoilet, 'n formele sitkamer met kaggel, 'n eetkamer, 'n TV-sitkamer met nog 'n kaggel, 'n kombuis met 'n instapspens en 'n opwaskombuis bied.

Ook op hierdie vlak is daar 'n groot onderdakpatio wat met 'n ingeboude braaiplek en 'n swembad spog.

Op die laer grondvlak is ook 'n ingangsportaal, 'n studeerkamer met ingeboude kabinette, 'n loopgang met ingeboude kabinette en wynrakke, 'n en suite-gastekamer en 'n groot onthaalvertrek toegerus met patryspoorte met versterkte glas vir 'n onderwateruitsig van die swembad.

Op die eerste verdieping lei 'n trapportaal na vier slaapkamers, drie badkamers (een en suite), 'n gastetoilet, 'n instaplinnekas met oop rakke, 'n gimnasiumvertrek en 'n TV-sitkamer. 'n Groot balkon bied 'n ruim uitsig oor Johannesburg-Noord.

Verdere verbeterings sluit in personeelkwartiere, motorhuise en genoeg parkeerplek vir gaste.

Northcliff is 'n vooraanstaande woonbuurt van Johannesburg en is uiters gesog weens sy sentrale ligging tot baie gewilde geriewe met maklike toegang tot Beyers Naudé-rylaan, die N1-hoofweg, Sandton en Randburg.

Die veiling sal op die perseel plaasvind op Dinsdag 18 Julie om 11:00. Belangstellende bieërs kan die eiendom op Sondag 9 Julie van 14:00 tot 16:00 besigtig.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM