'n "Ambisieuse" nuwe behuisingsontwikkeling in Johannesburg met tussen 20 000 en 30 000 wooneenhede is deur die genoteerde maatskappy Calgro M3 aangekondig.
Die Bankenveld District City Development gaan op die voorstoep van Sandton geleë wees.
Dis 'n gesamentlike vennootskap tussen Calgro M3 en die Eris Property Group danksy die verkryging van 'n "strategiese stuk grond", het Calgro M3 in 'n verklaring gesê. Dis die grootste enkele projek wat Calgro M3 al aangepak het.
Die ontwikkelings is naby die Marlboro-afrit van die N3.
Benewens wooneenhede sal daar ook kantore, winkels, nywerheidseiendom, skole en mediese geriewe gebou word.
Sowat 34% van die grond is opsygesit vir infrastruktuur, insluitend paaie, stormwaterbestuur en uitgebreide ontspanningsgebiede, om die lewensgehalte van inwoners en die omliggende gebiede te verhoog.
Ingevolge die gesamentlike vennootskapsooreenkoms tussen Calgro M3 en Eris sal albei partye die koste van die oprigting van die infrastruktuur deel.
Calgro M3 sal daarna verantwoordelik wees vir die residensiële komponente van die ontwikkeling, terwyl Eris die res behartig.
"Bankenveld District City is 'n visioenêre projek wat daarop gemik is om maatskaplik-ekonomiese opheffing op 'n ongekende skaal te bevorder."
Bankenveld is volgens die verklaring strategies geleë om die gaping tussen bekostigbaarheid en toegang tot Sandton se ekonomiese kern te oorbrug en sal 'n voorbeeld van "innoverende beplanning en volhoubare ontwikkeling" wees.
Die projek, wat die potensiaal het om tot R18 miljard in inkomste te skep, word deur Calgro M3 as 'n aansienlike mylpaal beskryf wat sy lys projekte in wording meer as verdubbel.
Calgro M3 het met die aankondiging van sy tussentydse resultate vir die ses maande tot einde Augustus projekte ter waarde van R15,5 miljard gehad wat uit 20 239 eenhede bestaan. Die maatskappy is aktief besig met agt projekte en het toe 2 118 eenhede onder konstruksie gehad.
Calgro M3 hoop dat die nuwe projek die maatskappy se waardasie sal ondersteun.
Die eerste wooneenhede gaan na verwagting teen einde 2026 voltooi wees.





















