Vir die tweede keer in minder as 'n jaar het 'n Britse man "die skaarsste" Star Wars-speelding ter wêreld in sy solder gevind, wat nou vir derduisende ponde opgeveil gaan word.
Die eienaar, wie se naam nie deur die veilingsmaatskappy bekend gemaak is nie, het verlede jaar 'n identiese weergawe in sy solder gevind.
Die speelding, 'n oorspronklike 1978-Palitoy Star Wars Jawa-mannetjie in 'n perfekte toestand, is een van net 10 tot 15 wat al gedokumenteer is.
Wat dié Jawa-mannetjie die skaarsste Star Wars-speelding ter wêreld maak, is sy viniel-mantel wat vir slegs 'n baie kort tyd vervaardig is voordat dit met lap vervang is.
Die vorige veiling in Julie 2023 het die waarde van die speelding op £10 000 tot £15 000 geskat.
Dit het toe vir £26 670 verkoop.

Die eienaar was van 1974 tot 1979 die kunsdirekteur van Marvel in Brittanje.
Vanweë sy senior posisie het hy as deel van die bemarkingsveldtog van die tentoonstelling van die eerste Star Wars-flieks in die sewentigerjare 'n reeks Star Wars-memorabilia en speelgoed van Palitoy ontvang.
Luidens 'n verklaring van Excalibur Auctions, die veilingsmaatskappy wat ook die tweede speelding gaan opveil, het die eienaar steeds nie deur sy hele versameling van memorabilia en speelgoed in sy solder gewerk nie.
"Ons is verheug dat ons nog een van die skaarsste, mees gesogte Star Wars-figure gekry het," sê Jonathan Torode, hoofafslaer van Excalibur, in 'n verklaring.
"Met die sukses van die vorige oorspronklike Jawa-figuur se veiling, het ons baie navrae gekry van mense in verskeie lande wat kaste en motorhuise deursoek het om te sien of hulle een het, maar ons het nooit verwag dat nóg een vanaf dieselfde bron sou kom nie.
"Ek voel heeltemal bederf om nóg so 'n skaars deel van Star Wars-speelgoedgeskiedenis te kan hanteer."
Die veiling sal op 27 Januarie plaasvind en die afslaer verwag dat die hernude opgewondenheid sal lei tot nog 'n hoër prys wat vir die speelding gehaal word.



















