Kaap se V&A Waterfront kook in Desember

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Meer as drie miljoen mense het die V&A Waterfront in Kaapstad  in Desember besoek.
Meer as drie miljoen mense het die V&A Waterfront in Kaapstad in Desember besoek. (Foto: Verskaf)

Die V&A Waterfront in Kaapstad het in Desember uit sy nate gebars met meer as drie miljoen besoekers.

Hulle het die kasregisters en kaartmasjiene in dié gewilde Kaapse toeristetrekpleister baie besig gehou met R1,4 miljard aan kleinhandelverkope.

Algehele kleinhandelverkope in die V&A Waterfront het in 2025 meer as R11 miljard beloop. Dit verteenwoordig ’n styging van 7% teenoor 2024.

Graham Wood, uitvoerende hoof van die Waterfront, beskryf dié syfers as “aanmoedigend” vir ’n plek wat meer as 83 000 regstreekse en onregstreekse poste ondersteun en tot meer as 1,5% van die Wes-Kaapse BBP bydra.

“Ons het 25 miljoen besoekers in 2025 verwelkom, dieselfde as in die vorige jaar ondanks beduidende ontwikkeling, konstruksie en infrastruktuur-verbeterings oor die hele perseel heen,” sê hy.

“Selfs sonder die voltooiing van ons luukse kleinhandelvleuel het die V&A meer as R11 miljard aan kleinhandelverkope in 2025 behaal, ’n styging van 7%, in nog ’n jaar van uitstekende groei.”

Hotelle

Die heropening van die hotel InterContinental Table Bay in Desember ná ’n opknapping wat 10 maande lank geduur het, was volgens Wood ’n hupstoot vir die Waterfront se verblyfaanbod.

“Aanvraag oor al 13 ons hotelle heen was robuus oor die Kerstyd, met die besettingsvlak in Desember op ’n gesonde 69%, wat die V&A Waterfront se mag as ’n wêreldwye toerismebestemming herbevestig.”

Die luukse kleinhandelvleuel open vanjaar. Nóg ’n mylpaal sal die opening van die ultraluukse Edition-hotel in die derde kwartaal van die jaar wees.

Altesaam 74 skepe, 126 000 passassiers en 45 000 bemanningslede het die skeepsterminus in die  V&A Waterfront aangedoen.
Altesaam 74 skepe, 126 000 passassiers en 45 000 bemanningslede het die skeepsterminus in die V&A Waterfront aangedoen. (Foto: Verskaf)

Skepe

Altesame 74 passasierskepe, 126 000 passasiers en 45 000 bemanningslede het in 2025 die skeepsterminus in die V&A Waterfront aangedoen.

“Ondanks die korttermyn-uitwerking van geopolitieke ontwikkelings op plesiervaarte is daar langtermyn-groeipotensiaal in die plesierbootmark,” sê Wood.

Altesaam 230 internasionale vlugte land weekliks in Kaapstad.

“Toerisme is ’n belangrike ekonomiese drywer wat 9% tot die bruto binnelandse produk (BBP) bydra en sowat 1,8 miljoen poste in die gasvryheidsbedryf, vervoer, kleinhandel en dienste ondersteun.”

• Patricia De Lille, minister van toerisme, het verlede maand aangekondig dat ’n rekordgetal van bykans 10,5 miljoen internasionale toeriste Suid-Afrika in 2025 besoek het. Dit is die hoogste getal internasionale toeriste tot nog toe.

LEES OOK | Rekordgetal internasionale toeriste besoek SA in 2025

Pres. Cyril Ramaphosa het Maandag in sy weeklikse nuusbrief in reaksie op dié syfers gesê elke Suid-Afrikaner moet ’n toerisme-ambassadeur vir die land wees en elke gemeenskap moet ’n potensiële toeristebestemming word.

LEES OOK | Almal in SA moet die land bemark, sê Cyril

SPELETJIES VANDAG

CTA