Ekonomie

SA spring met 7 plekke op toerisme-indeks

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Ter illustrasie. Die sweefspoor op Tafelberg.  Foto: Argief
Ter illustrasie. Die sweefspoor op Tafelberg. Foto: Argief

Suid-Afrika beklee die hoogste posisie van Afrikalande op die 2024-reis-en-toerisme-ontwikkelingsindeks van die Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF).

Die land is 55ste onder 119 lande in die tweede uitgawe van die indeks wat vroeër vandeesweek uitgereik is.

Mauritius is die tweede hoogste Afrikaland op die lys (57), gevolg deur Egipte (61), Botswana (75), Kenia (77), Tanzanië (81), Marokko (82), Tunisië (83), Rwanda (93), Namibië (95), Zambië (104), Ghana (106), Senegal (107), Zimbabwe (110), Nigerië (112), Benin (113), die Ivoorkus (114), Malawi (115), Angola (116), Kameroen (117), Sierra Leone (118) en Mali (119).

In die top-20 plekke op die indeks is die VSA, gevolg deur Spanje, Japan, Frankryk, Australië, Duitsland, Brittanje, China, Italië, Switserland, Kanada, Portugal, Singapoer, Suid-Korea, Oostenryk, Nederland, Denemarke, die Verenigde Arabiese Emirate, Swede en Finland.

Volgens die indeks het Suid-Afrika die grootste reis-en-toerisme-ekonomie in Afrika.

Die indeks meet die faktore en beleid wat onder meer die volhoubare ontwikkeling van die reis-en-toerismesektor moontlik maak.

Patricia de Lille, minister van toerisme, het Donderdag in 'n verklaring gesê sy is uiters tevrede met Suid-Afrika se plek op die ranglys omdat dit die departement se verbintenis en werk bevestig om die gewig en bydrae van die toerismesektor in Suid-Afrika op te hef.

"Die toerismesektor het robuuste groei oor die afgelope jaar bereik vanweë nouer vennootskappe en samewerking met die private sektor om toerisme tot sy volle potensiaal uit te bou," het De Lille gesê.

Suid-Afrika is vanjaar sewe plekke hoër op die lys en vaar goed ten opsigte van prys, mededingendheid, IKT-gereedheid, natuurlike hulpbronne en die sosio-ekonomiese impak van reis en toerisme.

De Lille sê dit bly die departement se doel om toeriste-aankomssyfers en die oorhoofse prestasie van die toerismesektor eksponensieel te verhoog.

"Die sektor lewer reeds 'n beduidende bydrae tot Suid-Afrika se bruto binnelandse produk (BBP) en werkskepping, maar daar is steeds soveel meer om te doen. Ons werk nouer saam met die private sektor en dit dra vrugte."

Sy het rolspelers in die private sektor bedank vir hul samewerking met die regering en gesê die grootste bate van die Suid-Afrikaanse toerismesektor is sy mense.

Suid-Afrika het in 2023 bykans 8,5 miljoen internasionale besoekers verwelkom van wie 6,4 miljoen van elders in Afrika was. Dit verteenwoordig 'n aansienlike styging van 48,9% in vergelyking met aankomste in 2022.

2,4 miljoen internasionale toeriste het Suid-Afrika in die eerste kwartaal van 2024 besoek. Dit verteenwoordig 'n toename van 15,4% vergeleke met die ooreenstemmende tydperk in 2023.

Die indeks oorweeg verskeie faktore in die reis-en-toerisme-ekonomieë van die lande, waaronder die sake-omgewing, veiligheid en sekuriteit, reis-en-toerismebeleid, prysmededingendheid, vervoerinfrastruktuur en dienste.

Die 2024-verslag is gegrond op navorsing van die WEF en die Universiteit van Surrey. Insette is ook ontvang van leidende reis- en toerisme-organisasies en ander rolspelers.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM