Ekonomie

Sanparke se inkomste oortref R4 mjd.-kerf

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die Krugerwildtuin, wat deur Sanparke bestuur word, is ’n gewilde bestemming vir besoekers aan Suid-Afrika.
Die Krugerwildtuin, wat deur Sanparke bestuur word, is ’n gewilde bestemming vir besoekers aan Suid-Afrika. (Foto: Gallo Images)

Sanparke se inkomste het in die 2024-’25-boekjaar die eerste keer die R4 miljard-kerf oorskry.

Hapiloe Sello, uitvoerende hoof van Sanparke, het verlede week aan die parlementêre portefeuljekomitee oor bosbou, visserye en die omgewing ’n styging van 11% in inkomste vanaf R3,67 miljard tot R4,1 miljard in die 2024-’25-boekjaar gerapporteer.

Sanparke het Maandag in ’n verklaring gesê dit is die eerste keer dat sy inkomste die R4 miljard-kerf oorskry. 75% van die inkomste is uit kommersiële aktiwiteite gegenereer, wat die doeltreffendheid van die entiteit se kommersiële strategieë beklemtoon.

Sello het ook daarop gewys dat Sanparke oor ’n netto kontantbalans van R2,7 miljard beskik, terwyl die entiteit se totale bates sy totale laste met ’n marge van R3,7 miljard oortref.

“Dié resultate demonstreer dat Sanparke oor sterk finansiële gesondheid beskik, ondersteun deur soliede groei in inkomste, gesonde likiditeit en ’n veerkragtige balansstaat wat bevestig dat dit ’n finansieel gesonde instelling is wat goed bestuur word,” lui die verklaring.

Sanparke het ook ’n ongekwalifiseerde ouditmening vir die afgelope boekjaar ontvang en het 86% van sy prestasieteikens bereik.

Toeriste-besoeke

Intussen het besoeke van internasionale toeriste aan Suid-Afrika in Augustus die hoogte ingeskiet.

Patricia de Lille, minister van toerisme, het Sondag die opwaartse neiging in ’n verklaring verwelkom en gesê die 30,2%-styging in Augustus op ’n jaargrondslag beteken 935 738 internasionale toeriste het die land besoek.

Syfers

Bykans 6,8 miljoen toeriste het die land tussen Januarie en Augustus vanjaar besoek, wat ’n 15,8%-styging is teenoor dieselfde tydperk verlede jaar.

Hoogtepunte

• Aankomste uit Europa het met 20,8% gestyg en is gelei deur Brittanje (+28,9%) en Duitsland (+33,6%);

• Sentraal- en Suid-Amerika het met 63,6% die hoogte ingeskiet. Argentinië het met 85,5% geklim en Brasilië met 77,2%;

• Australasië het met 38% gestyg en Asië met 21,1%. Dié syfers is aangedryf deur Indonesië (+100,7%) en Maleisië (+67,8%) te midde van kleiner syfers uit China en Indië;

• Die Midde-Ooste het met 82,2% geklim, gelei deur Saoedi-Arabië (+129,3%) en die Verenigde Arabiese Emirate (+98,3%); en

• Aankomste uit Afrika het met 31,8% geklim. Dit is ondersteun deur besoekers uit Lesotho (+110,2%) en Mosambiek (+36,8%), terwyl die getal aankomste per vliegtuig uit Afrika met 26,3% gestyg het, aangedryf deur Nigerië (+46,6%) en die Demokratiese Republiek die Kongo (+75,9%).

“Die syfers vertel ’n storie van vertroue en herstel. Suid-Afrika se toerisme-ekonomie is ferm op ’n opwaartse trajek, aangedryf deur ons visumhervormings, sterk bemarking van die bestemming en die veerkragtigheid van ons bedryf. Toerisme is nie net ontspanning nie, dit is ’n ekonomiese enjin wat bykans 2 miljoen poste beskerm,” sê De Lille.

– philda.essop@24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM