Ekonomie

Stil maand by die winkels

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Dit wil voorkom of druk op verbruikers effens minder word. Foto: Unsplash
Dit wil voorkom of druk op verbruikers effens minder word. Foto: Unsplash

Verbruikers het hul beursies in Maart styf toegehou en selfs op kos besnoei.

Dit het ekonome opnuut bekommerd oor die land se ekonomie. Die toets sal April se verkope wees omdat die grootste deel van die skoolvakansie en Paasnaweek in dié maand geval het vanjaar.

Verkope in die land se winkels was net 1,5% meer as verlede jaar. Dis die syfer wat inflasie uitskakel en dien as 'n aanduiding van die groei in die volume verkope.

Verkope in die hele eerste kwartaal was net 0,1% meer as in die vierde kwartaal.

Dis dié trae kwartaalgroei wat ekonome bekommerd maak omdat dit een van die syfers is wat gebruik word om die kwartaallikse groei van die hele ekonomie te bereken. Siphamandla Mkhwanazi, senior FNB-ekonoom, sê dit lyk asof huishouding se besteding momentum verloor, wat breër ekonomiese groei sal laat taan.

Oor die loop van die jaar het verkope in alle soorte winkel toegeneem, met die uitsondering van spesialiswinkels soos bakkerye, slagterye en tabakwinkels (-2,6%).

Die groei in verkope van medisyne, toiletware en grimering was die sterkste op 7,1%.

Verkope by die algemene handelaars - waar Suid-Afrikaners die meeste van hul kruideniersware koop - het met net 0,3% gegroei.

Nadat verkoopsgroei by klere- en skoenwinkels in drie van die vorige vier maande in dubbelsyfers gegroei het, het dit tot net 3,5% verminder. Dit was ook drie uit die vier vorige maande die kategorie met die sterkste groei, maar was dié maand die derde beste groei op 3,5%.

Teenoor die eerste kwartaal van 2024 was groei in die eerste kwartaal 4,1% hoër, wat die sterkste begin van die jaar sedert 2018 is. Mkhwanazi sê dit kan wees danksy laer inflasie, die drie verlagings in die rentekoers sedert September, en die groot uitbetalings uit aftreefondse danksy die tweepotstelsel wat ingetree het.

Vir die res van die jaar word groei steeds in verbruikersbesteding verwag, maar dalk traer as waarop voorheen gehoop is. Die onsekerheid oor wêreldhandel en oor plaaslike politiek, tesame met traer ekonomiese groei en hoër werkloosheid laat verbruikers steeds hul sente omdraai.

Verrassing in die motorbedryf

Verkope in die motorbedryf - van voertuie tot brandstof - het in Maart die beste gevaar in byna twee jaar, met jaargroei van 3,6%. Dit was in Junie 2023 5,8% en was negatief in 15 uit die afgelope 24 maande.

Veral nuwemotorverkope het verras, met jaargroei van 15,8%. Verkope van gebruikte voertuie was ook hoër op 6,4%.

Inkomste uit werkwinkels het met 9,9% gedaal en uit brandstofverkope met 2,6%. Mense het ook 6,4% minder by geriefswinkels by vulstasies bestee as 'n jaar gelede.

Van Februarie tot Maart het verkope in die motorbedryf met 1,9% gegroei, en kwartaalgroei was 0,7%.

Groothandel

Groothandelverkope vir Maart was droewig. Dis 2,1% laer as 'n jaar gelede en het van maand tot maand met 0,1% gedaal. Die kwartaalgroei was ook negatief op -0,8%.

- hanlie.stadler@24.com

Hanlie Nordejee

Hanlie Nordejee

Hanlie is a business journalist based in Cape Town covering macro-economics.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM