Klaus Schwab (87), stigter van die Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF), het uitgetree as voorsitter van die WEF se raad van trustees.
Die Geneefse instelling, wat jaarliks die wêreld se sake- en politieke elite in die Switserse bergdorpie Davos byeenbring, het die nuus Maandag gedeel. Schwab het reeds vroeër in April bekend gemaak dat hy wil aftree, maar geen datum is gegee nie.
"Ná my onlangse aankondigings, en soos ek my 88ste jaar ingaan, het ek besluit om onmiddellik uit te tree," het Schwab Maandag luidens 'n verklaring gesê.
Dit volg op 'n buitengewone raadsvergadering op 20 April.
Peter Brabeck-Letmathe, adjunkvoorsitter, sal as voorsitter waarneem. 'n Komitee is op die been gebring om die nuwe voorsitter aan te wys.
Schwab het die Europese Bestuursforum in 1971 begin as 'n forum vir beleidmakers en uitvoerende bestuurders om groot wêreldprobleme te bespreek. Dis in 1978 tot die WEF herdoop.
Die jaarlikse Davos-vergaderings het die laaste jare onder kritiek deurgeloop dat dit elitisties is.
Schwab self is al van seksuele teistering en diskriminasie teen ouer mense en 'n swanger vrou beskuldig, maar niks het nog van dié klagtes gekom nie.
Bronne: Reuters, Wikipedia




















