Beurtkrag is nog nie agter ons nie, en die stelsel is tans onder ernstige druk, het dr. Kgosientsho Ramokgopa, minister van elektrisiteit en energie, Vrydag gewaarsku.
Dan Marokane, uitvoerende hoof van Eskom, het ook later gesê verskeie opwekkingseenhede het die afgelope week onklaar geraak en Eskom sal dalk beurtkrag moet instel as die vraag die aanbod oorskry.
Hulle het verslag gedoen oor Eskom se resultate aan die parlement se portefeuljekomitee oor elektrisiteit en energie.
Terwyl die komiteesitting nog voortgeduur het, het Eskom 'n waarskuwing uitgevaardig dat beurtkrag moontlik op kort kennisgewing ingestel gaan word.
"Dis 'n potensiële tydelike terugslag. Beurtkrag is grootliks agter ons danksy die strukturele verbeteringe in ons vloot kragstasies. Oor die afgelope sewe dae het verskeie opwekkingseenhede egter onklaar geraak wat lang hersteltye verg. Dit het die gebruik van al ons noodreserwes vereis wat nou hervul moet word," lui die verklaring van Marokane.
Beurtkrag kan selfs op fase 4 ingestel word, lui die verklaring.
Ramokgopa hou om 14:30 'n mediakonferensie oor die stand van die kragnetwerk.
Ramokgopa sê Eskom beweeg in die regte rigting.
Hy het aan die komitee om verskoning gevra vir die laat indiening van Eskom se finansiële state vir die boekjaar tot einde Maart 2024. Ramokgopa het toegegee dit was 'n buitengewone stap van hom om in Desember uitstel te vra. Die aspekte wat tot die vertraging gelei het en wat deur die ouditeur-generaal uitgewys is, sal reggestel word, belowe Ramokgopa.
"Die tydperk onder oorsig - die Eskom van daardie tyd is fundamenteel anders as die Eskom wat ons in staat was om daarna op te bou. Dit was 'n Eskom wat nie sy basiese mandaat kon lewer nie - om voldoende krag te lewer om die ekonomie aan die gang te hou. Dit was die mees intensiewe beurtkrag in Eskom se geskiedenis. Die syfers toon dit."
As die bedreiging van beurtkrag werklik verby is, sal hy dit in die parlement aankondig, het Ramokgopa gesê.
Ramokgopa het ook bekend gemaak dat munisipale skuld tot meer as R100 miljard gestyg het.
- francois.williams@24.com
Die berig is ná publikasie bygewerk.




















