Beurtkragvrye somer steeds in die vooruitsig

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die einde van beurtkrag is dalk goeie nuus vir Suid-Afrikaners, maar Jan Taks huil daaroor.
Die einde van beurtkrag is dalk goeie nuus vir Suid-Afrikaners, maar Jan Taks huil daaroor.

Suid-Afrikaners kan steeds uitsien na 'n beurtkragvrye somer met Eskom se vooruitsig in dié verband wat onveranderd bly.

Die kragvoorsiener se dieselrekening gaan ook voort om te daal, blyk uit Eskom se weeklikse verklaring oor die stand van die kragnetwerk.

Beurtkrag is reeds sewe maande (226 agtereenvolgende dae) sedert 26 Maart opgeskort.

Eskom se besparing op sy dieselrekening op 'n jaargrondslag was R14,6 miljard. Dit is sowat 70,3% minder as die R20,8 miljoen wat oor dieselfde tydperk verlede jaar bestee is. Verdere besparings word in die komende weke en maande verwag vanweë die verbeterde prestasie van die steenkoolkragstasies.

Die voorval by eenheid 6 van die Kriel-kragstasie in Mpumalanga die afgelope Maandag het geen uitwerking op Eskom se vermoë gehad om in die land se kragaanvraag te voorsien nie.

Die volgehoue verbetering om die onbeplande kragonderbrekings te verminder stel Eskom in staat om aktiwiteite ten opsigte van meer instandhouding te onderneem en verseker dat meer opwekkingskapasiteit beskikbaar is om in die land se kragaanvraag te voldoen.

Eskom se elektrisiteitsbeskikbaarheidsfaktor (EBF) het oor die afgelope week tot 'n gemiddeld van 65,2% verbeter, met top-presterende kragstasies, insluitend Medupi, Camden, Tutuka en Kusile, wat 'n EBF van meer as 70% bereik het. Vier ander kragstasies het EBF's van meer as 60% behaal.

"Eskom het in Augustus sy vooruitsig vir die somer vir die tydperk vanaf 1 September 2024 tot 31 Maart 2025 gedeel, wat 'n waarskynlike scenario van 'n beurtkragvrye somer voorspel vanweë strukturele opwekkingsverbeterings. Dié vooruitsig bly onveranderd," lui die verklaring.

Die voortgesette beplande instandhouding staan op 5 386 MW, wat ooreenstem met Eskom se somer-instandhouding­strategie om die betroubaarheid van die kragstasies ter voorbereiding van die winter van 2025 verder te verbeter.

Eskom se besteding aan oopsiklusgasturbines is beduidend laer as 'n jaar gelede. Uitgawes hieraan tussen 1 April en 7 November 2024 het sowat R6,2 miljard beloop, sowat 70,3% (R14,6 miljard) minder as die R20,8 miljard wat verlede jaar oor dieselfde tydperk bestee is.

Intussen staar netwerk-oorladingskwessies in sekere plaaslike gebiede Eskom in die gesig weens onwettige verbindings, vandalisme, die peuter met elektrisiteitsmeters, ongemagtigde bedrywighede met die netwerk, diefstal van toerusting en die aankoop van kragaankope van ongelisensieerde verkopers.

Eskom het kliënte ten sterkste aangemoedig om onwettige verbindings te vermy omdat dit algehele plaaslike gemeenskappe negatief kan raak. Dit is ook belangrik vir kliënte om te verseker hulle koop elektrisiteit van gemagtigde verkopers.

* Die kragvoorsieners het Eskom-kliënte weer daaraan herinner om hul voorafbetaalde meters voor 24 November op te dateer om te voorkom dat dit verval en dat krag verlore gaan. Dié proses behels die aankoop van kredietbewyse van goedgekeurde verkopers. Kliënte sal twee kodes van 20 nommers ontvang om by hul meters in te sleutel om dit op te dateer.

SPELETJIES VANDAG

CTA