Munisipaliteite in die Vrystaat, Mpumalanga en Gauteng se agterstallige skuld aan Eskom klop dié van munisipaliteite in ander provinsies ver.
Huishoudings in Gauteng en Noordwes is die grootste skuldenaars aan Eskom, terwyl staatsdepartemente in Noordwes en Gauteng die meeste geld aan die kragverskaffer skuld.
Die hardnekkige munisipale skuldvlakke het steeds ’n negatiewe uitwerking op Eskom se finansiële profiel, het dr. Kgosientsho Ramokgopa, minister van elektrisiteit en energie, Donderdag in antwoord op ’n geskrewe parlementêre vraag van Songezo Zibi, leier van Rise Mzansi, gesê.
Zibi wou van die minister weet wat die totale bedrag is wat aan Eskom geskuld word deur munisipaliteite, huishoudings en provinsiale en nasionale staatsdepartemente. Hy wou ook weet wat die totale bedrag is wat verhaal is van dié kategorieë skuldenaars in die afgelope drie boekjare.
Ramokgopa het geantwoord agterstallige munisipale skuld het op 31 Mei R96,7 miljard beloop. In Maart 2023 het dié syfer op R58,5 miljard gestaan en in Maart 2024 op R74,4 miljard.
Huishoudings het einde Mei R770 miljoen aan Eskom geskuld, terwyl staatsdepartemente R132 miljoen skuld.
Munisipaliteite
Die agterstallige skuld van munisipaliteite in die Vrystaat het teen Mei R26,12 miljard beloop. Mpumalanga was nie ver agter nie met R26,11 miljard en Gauteng se syfer staan op R20,7 miljard.
Noordwes het R8,5 miljard geskuld, die Noord-Kaap R5,5 miljard, die Oos-Kaap R4,7 miljard, KwaZulu-Natal R2,9 miljard, Limpopo R1,7 miljard en die Wes-Kaap R262 miljoen.
Huishoudings
Huishoudings in Noordwes het teen Mei vanjaar R184 miljoen aan Eskom geskuld, gevolg deur Gauteng (R169 miljoen), Limpopo (R111 miljoen), die Wes-Kaap (R108 miljoen), KwaZulu-Natal (R57 miljoen), Mpumalanga (R56 miljoen), die Noord-Kaap (R45 miljoen), die Oos-Kaap (R29 miljoen) en die Vrystaat (R13 miljoen).
Staatsdepartemente
Staatsdepartemente in Noordwes het Eskom teen Mei R59 miljoen geskuld, Gauteng het R22 miljoen geskuld, gevolg deur die Noord-Kaap (R11 miljoen), die Oos-Kaap (R10 miljoen), die Wes-Kaap (R9 miljoen), die Vrystaat (R8 miljoen), KwaZulu-Natal (R6 miljoen), Limpopo (R5 miljoen) en Mpumalanga (R3 miljoen).
Tesourie se skuldverligtingsprogram misluk
Eskom het verskeie strategieë om krediet te bestuur wat agterstallige skuld betref.
Vir niemunisipale kliënte sluit dit kennisgewings, skakeling met kliënte, die opskorting van kragvoorsiening, die oorskakeling na voorafbetaalde elektrisiteitsmeters en om ooreenkomste met betrekking tot agterstallige betalings aan te gaan.
Met munisipale skuldvlakke reeds hemelhoog, is die feit dat lopende rekeninge ook nie ten volle vereffen word nie, ’n groot bron van kommer, sê Ramokgopa. Dit het volgens hom ’n regstreekse impak op Eskom se vermoë om infrastruktuur in stand te hou, betroubare kragverskaffing te verseker en in toekomstige kragbehoeftes te voorsien.
Hy sê Eskom stel strategieë in werking om munisipale betalings te verbeter. Die kragverskaffer doen alles in sy vermoë om die groeiende skuldlas te stuit.
Ingryping deur die regering word volgens die minister vereis, aangesien die skuldverligtingsprogram van die nasionale tesourie misluk het.
Die hervorming van die kragverspreidingsmodel aan nywerhede; die toepassing van ooreenkomste met verspreidingsagentskappe om te verseker dat geld vir krag afsonderlik gehou word; samewerking met die nasionale tesourie om munisipaliteite te ondersteun; en regstappe teen munisipaliteite as ’n laaste uitweg is van die ander strategieë wat Eskom volg om die betalingstekorte te takel.












