Die vrou wat SA se krag in haar hande hou

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die kalmste plek in Eskom, selfs tydens die ergste vlakke van beurtkrag, is die nasionale beheerkamer.

Die mense wat daar aan diens is, is immers met die hand uitgesoek vir hul vermoë om kalm te bly.

Isabel Fick, hoof van Eskom se kantoor vir stelselbeheer. Foto: Deon Raath
Isabel Fick, hoof van Eskom se kantoor vir stelselbeheer. Foto: Deon Raath

So sê Isabel Fick, die vrou wat die afgelope vier jaar in beheer is van Eskom se kantoor vir stelselbeheer.

Afvaardigings van Ierland, Australië en Europa het al by haar span kom kers opsteek oor hoe om 'n netwerk wat onder druk is, te bestuur.

"Mense besef nie hoe groot en uniek Suid-Afrika se kragnetwerk is nie," sê Fick.

"Dit is byna so groot soos dié van die hele Europa, maar hul netwerk behoort aan verskillende lande wat interafhanklik is."

Suid-Afrika se netwerk word gekenmerk deur lang transmissielyne wat hoë elektrisiteitspanning moet verduur.

Lesotho se spitsverbruik is byvoorbeeld 150 MW vergeleke met Suid-Afrika se 36 000 MW.

Fick stem saam met 'n waarskuwing van die GO15, 'n vereniging van bestuurders van die grootste kragnetwerke ter wêreld, dat die groei in hernubare energie soos son- en windkrag die stabiliteit van netwerke bedreig.

Dit verg 'n verandering in hoe netwerke voortaan bestuur moet word.

Die bydrae van hernubare energie tot die Suid-Afrikaanse kragstelsel is al hoe belangriker.

Om die kragnetwerk stabiel te hou moet die frekwensie waarteen die elektrone deur die stelsel beweeg op 50 Hz gehou word. Dít gebeur wanneer vraag en aanbod in balans is en daar min ruimte is vir afwyking.

Tradisioneel het die "traagheid" (inertia) van groot steenkoolkragsentrales 'n belangrike rol gespeel. Dit verwys na die feit dat die groot turbines in dié stelsels nie oombliklik ophou draai wanneer 'n eenheid afgeskakel word of onklaar raak nie.

Dit absorbeer eerder die skok wat 'n skielike verlies aan opwekkingsvermoë kan veroorsaak en help om die frekwensie stabiel te hou.

Son- en windplase het nie dié groot turbines en gepaardgaande traagheid nie en namate groot steenkoolkragsentrales vir hulle plek maak, styg die risiko van onstabiliteit en dus groot kragonderbrekings.

Die bydrae van hernubare energie tot die Suid-Afrikaanse kragstelsel is al hoe belangriker, sê Fick.

"Die hoogste bydrae wat ons nog aangeteken het, was op 20 Februarie verlede jaar toe dit 21,8% was."

Daar is reeds 6 430 MW hernubare opwekkingsvermoë op die netwerk danksy die regering se groenkragaankope, maar Fick sê die groot hoeveelheid ongereguleerde groenkrag, soos sonpanele op huise en ondernemings se dakke, is 'n rede tot kommer. Dit is meestal in Gauteng gesetel en voldoen nie noodwendig aan die tegniese vereistes van die netwerk nie.

"Ons kan dit op die netwerk sien. As daar wolke is, verander die lasprofiel (patroon van vraag) heeltemal." Sy verduidelik omdat sonkrag in die middel van die dag op sy beste is, is die vraag na Eskom se krag dan laer.

Teen laatmiddag sak die son en die mate waarin Eskom sy kragverskaffing na die spitsverbruik in die aand moet vermeerder, raak al hoe meer.

"Tussen 16:00 en 19:00 moet ons met 4 000 tot 5 000 MW opgaan. Dis 'n massiewe tempo.

"Steenkoolkragstasies kan nie so vinnig optel nie. As hulle koud is, vat dit tot 72 uur om hulle aan die gang te kry," sê sy.

Fick en haar span kan die toevoer van son- en windkrag, veral in die middag wanneer daar 'n ooraanbod is, beperk om die balans te handhaaf. Eskom se kontrakte met onafhanklike kragverskaffers maak voorsiening daarvoor om die frekwensie te beheer, maar Eskom het by Nersa aansoek gedoen om die omstandighede waarin hy dit mag doen uit te brei.

Deur die toevoer van groenkrag in spitstyd te beperk, kan Eskom plek maak vir tot 4 000 MW se ekstra groenkrag-opwekkingsvermoë op die netwerk wat groot dele van die res van die dag benut kan word.

Fick sê steenkoolopwekking is nie die enigste bestendige tegnologie, die sogenaamde basislading wat vir 'n kragstelsel beskikbaar is, nie. Ook kernkrag is skoon en uiters stabiel, soos Koeberg die afgelope dekades bewys het.

Só werk die kantoor

Die stelseloperateur se kantoor het sowat 700 personeellede. Dit bestaan uit nasionale beheer, telekommunikasie, kragstelsel en betroubaarheidsdienste, netwerkkodebestuur en tegniese bedrywighede.

Die nasionale beheerkamer word deur ses mense op 'n slag beman en daar is vyf skofte.

Vir die nasionale beheersentrum is daar 'n tweede beheersentrum as rugsteun.

Tydens die Covid-19-pandemie het die nasionale beheerkamer twee weke voor die res van die land begin met inperking. Vir twee jaar was die mense saam met hulle op skof die enigste kollegas wat die personeel daar gesien het. Hulle het drie keer naatloos oorgeskakel na die tweede beheerkamer en planne was gereed om hulle op die perseel te huisves, sou dit nodig raak.

Antoinette Slabbert

SPELETJIES VANDAG

CTA