Calib Cassim, staatmaker- finansiële hoof van Eskom, tree Oktober volgende jaar uit.
Cassim is sedert Julie 2017 al die geldbaas by Eskom. Hy het ook as hoof van Eskom waargeneem ná die vertrek van André de Ruyter in Februarie 2023 totdat Dan Marokane in Januarie 2024 aangestel is.
Eskom het dít en ander leierskapsnuus Donderdagoggend op die JSE se Sens-nuusdiens bekend gemaak. Dit is om beleggers wat Eskom-effekte besit ingelig te hou.
Volgens Eskom gee dit hom nou bykans ’n jaar tyd om na ’n gepaste opvolger vir Cassim as finansiële hoof te soek.
Sodra ’n aanstelling gedoen is, sal Cassim as uitvoerende direkteur bedank.
Cassim (53), ’n gekwalifiseerde geoktrooieerde rekenmeester, het 23 jaar lank by Eskom gewerk. Eskom laat blyk egter nie wat hy volgende gaan doen nie.
Ander nuus in Eskom-kringe is dat Monde Bala (51), waarnemende hoof van sy filiaal, die Nasionale Transmissiemaatskappy van Suid-Afrika (NTCSA), nou permanent in die pos aangestel is.

Bala, wat sedert 2019 hoof van Eskom se verspreidingsafdeling was, is twee maande gelede as waarnemende hoof by die NTCSA aangestel nadat Segomoco Scheppers uit die pos getree het.
Bala het al meer as 27 jaar ervaring in die kragsektor en het ’n meestersgraad in ingenieurswese van die Universiteit van die Witwatersrand.
Eskom het ook Donderdag bevestig dat dr. Kgosientsho Ramokgopa, minister van energie en elektrisiteit, die termyn van die huidige Eskom-direksie vir nog twee maande tot einde November verleng het. Hul termyn het eintlik op 30 September verstryk omdat hulle op 1 Oktober 2022 vir ’n termyn van drie jaar aangestel is.











